Die wetsontwerp op die nasionale minimum loon is reeds by die Nasionale Vergadering ingedien en sal na verwagting op 1 Mei 2018 ’n werklikheid word.

Die inwerkingstelling van die loon kan die gevolg hê dat die loonrekening vir plaaswerkers in die 2018-’19-belastingjaar met ’n astronomiese 16,32% styg. Die land se eerste loon van só ’n aard sal R20 per uur of R3 500 per maand wees.

Werksverliese kan voorkom
Volgens Cofesa hou die aangekondigde minimum loon nie rekening met faktore soos die droogtetoestand, die invoer van goedkoop hoenderprodukte en voëlgriep nie. Die werkverliese daarvan is nog nie alles verreken nie.

Meer as 80 000 poste word daardeur bedreig. In die landbou in die Wes-Kaap het die droogte reeds meer as 25 000 werkgeleenthede geëis.

Met die verergerde stand van rommelstatus en ’n groeikoers van 0,6%, vra Cofesa ’n moratorium op die aangekondigde minimum loon totdat die ekonomiese situasie verbeter.

“Die verhoging van die minimum loon is uit pas met sy versoek en ekonomiese realiteite.”

Talle werkgewers het laat weet dat hulle nie die voorgestelde minimum lone kan bekostig nie, sê adv. Hein van der Walt van Cofesa.

“Baie fabrikante is onder finansiële druk en huisvroue is werkloos omdat duisende fabrieke weens goedkoop invoer hul deure gesluit het.

“Baie werkende huisvroue het self vir ’n tyd nie verhogings gekry nie.”

Daarby kon talle boere weens die droogte nie produseer, diversifiseer of uitbrei nie omdat die onsekerheid van grondeise oor hul koppe hang. Kapitaalreserwes is noodgedwonge vir regsgedinge opsy gesit.

Donker ekonomie
Bonusse vir Kersfees word ook opgeskort om voorsiening te maak vir die moontlik hoër lone.

Werkgewers is nou geforseer om uitgawes te beperk deur alternatiewe reëlings te tref, soos om werksdae te verminder, sekere werk self te doen, te meganiseer of om buite-kontrakteurs te gebruik wat ’n paar keer per week dienste lewer. Selfs huishoudings kry kontrakteurs om huise skoon te maak.

Die afgradering tot rommelstatus en die effek van staatskaping skep ’n donker ekonomiese prentjie en maak die verhoging van die minimum loon onrealisties, meen Van der Walt.

Met die verhoging van die minimum loon word bevoorrregte werkers wat reeds in diens is, beskerm.

Die land moet egter werk skep vir die 28% of 6,2 miljoen werkloses en 10,6 miljoen mense wat toelaes ontvang. Hoër minimum lone het hoër intreevlakke en versigtiger werkgewers tot gevolg, wat dit moeiliker maak vir werksoekers.

Van 2007 tot 2016 is daar net in die vervaardigingsektor 450 000 poste verloor, waarvan 150 000 in die metaalbedryf is. Die hele land voel die rimpeleffek daarvan. Tog word daar nou verwag dat die kleiner groepie belastingbetalers nou ook die verhoging van die minimum loon moet dra, sê Van der Walt. In 2017 is net 4,8 miljoen mense aangeslaan om belasting te betaal.

Boetes vir onderbetaling van loneDis tyd dat die eend wat die goue eiers lê, beskerm word, sê Cofesa. Die regulasie maak voorsiening dat die arbeidsinspekteur werkgewers wat onderbetaal, met ’n boete van dubbel sy salaris en voordele kan aanslaan. Dit sal die hoogste bedrag moontlik wees, dus dubbel die verhoogde loon wat in 2018 ingestel word, met voordele.

“Waarom dan nie eerder die bestaande werkgewers beskerm wat reeds suksesvol is nie? Waarom hulle bedreig met dubbele boetes vir die onderbetaling van lone?” vra Van der Walt.