Volgens hom dink Suid-Afrikaners in makro-terme oor grondhervorming en dit veroorsaak vrees in alle sektore.

Hy het op Rapport en City Press se grondindaba in Johannesburg gesê die proses moet afgebaken word sodat dit in opeenvolgende stappe hanteer kan word.

“Eerstens moet ons die kwessie van verblyfregsekerheid in stedelike gebiede oorweeg, dan sekerheid aan plaasbewoners en huurarbeiders, en dan dié reg uitbrei na mense wat in landelike gebiede woon. Uiteindelik kan ons die kwessie hanteer van kommersiële plase wat deur swart mense gehuur word, asook ander kommersiële grond.”

Motlanthe het gesê vir so ’n proses is ’n wet met algemene toepassing nodig. “As ons in opeenvolgende stappe aan die kwessie van grond dink, sal dit aan sekere bronne van nasionale griewe aandag gee, asook aan die meerderheid se honger na grond.

“Hoewel die kwessie van grondhervorming ingewikkeld lyk en sy probleme duidelik sigbaar is, sit ons ons werk volgens die riglyne van ons Grondwet voort. Ons beur voort ondanks, en weens, die huidige onmin en kakofoniese gesprekke oor die grondkwessie.”

Motlanthe het gesê die kwessie het ’n warm, betwiste en verdelende saak geword, “wat ons post-apartheid-bewussyn chaoties kaap”.

’n Hoëvlakpaneel, onder voorsitterskap van Motlanthe, wat onder meer na vordering met grondhervorming moes kyk, het bevind “die euwels van die verlede word post-apartheid in die samelewing herhaal, ondanks uitgebreide wetgewende hervorming”.

Die behoefte aan grondhervorming is volgens hom nog altyd duidelik verwoord. Die ongunstige sienings in die huidige dialoog daaroor word volgens hom dikwels deur klasbelange en die behoud van bevoorregte status aangedryf.

Die welsyn van almal wat in Suid-Afrika leef, moet in ag geneem word, “nie net die belange van ’n paar partydige en bevoordeelde groepe wat voortgaan om die buit van separatistiese ideale” te geniet nie, het hy gesê.

“Om te behoort, eenheid en identiteit is tot die terra firma van ons land verbind. Dit raak ons pogings tot versoening en maatskaplike samehorigheid baie ernstig, asook mense se materiële lewens, deurdat grond toegang bied tot maatskaplike sekerheid, die ekonomie en indiensneming.

“Baie mense sal vra hoe dit bereik kan word, en die antwoord is deur kollektiewe verantwoordelikheid,” het Motlanthe gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.