Hy het by Agri SA se jaarkongres in Pretoria gesê beide swart en wit boere word deur moord en misdaad geraak en dat baie van die beloftes wat politici en die Regering hieroor maak, “totaal nie sin maak nie”.

“Vir ons as Suid-Afrikaners het die waarheid, en dit wat ons ervaar, ’n wesenlike invloed op ons siening, en of ons vol moed is oor die toekoms.”

Motsepe, ’n mynmagnaat wat onder van die wêreld se rykste mense tel, het gesê hy is nie ten gunste van leë motiveringsboodskappe nie en dat die feite vir hulself spreek.

“Die waarheid is die waarheid.”

Tog is hy optimisties oor die toekoms van die landbou- en  voedselverwerkingsbedryf.

Sy oupa en pa was boere en hy is ook ’n boer.

“Ek het geen twyfel nie dat ons oor drie, vyf of sewe jaar sal terugkyk en sê: Daar was groot uitdagings in 2018, maar ons het dit gewen.”

Motsepe het die belangrikheid daarvan benadruk dat gemarginaliseerde Suid-Afrikaners deel van die ekonomie moet word en gesê die land het andersins geen toekoms nie.

Die elite van die land, waarvan hy deel is, se toekoms is volgens hom onlosmaaklik verbind aan die skep van ’n toekoms vir en die insluiting van gemarginaliseerde en werklose mense.

“Ons is geneig om hierna as ’n wit-swart-kwessie te kyk, maar dit is nie.”

Hy het gesê alle Suid-Afrikaners moet saamstem dat die land se toekomstige sukses daarvan afhang dat almal ingesluit moet word.

“As die begunstigdes net diegene met die van Motsepe is, gaan ons ’n rewolusie hê.”

Hy het gesê hy is daartoe verbind om te help seker maak dat daar ’n betekenisvolle aantal swart boere is en gemeenskappe wat voordeel trek uit die landbou- en voedselverwerkingsbedryf.

Dit is volgens hom belangrik om vir die wêreld te wys dat daar wel rolmodelle is van suksesvolle vennootskappe tussen wit en swart boere, en dat die Regering aansporings moet oorweeg sodat vennootskappe voordele vir beide partye bied.

“Die kritieke ding is, dit moet kommersiële sin maak.”

Die suksesvolste lande is volgens hom dié wat ’n omgewing geskep het waarin die private sektor kan ontwikkel, groei en sukses behaal, en waar die private sektor die vertroue het om te belê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.