Die Demokratiese Alliansie (DA) meen die uitreiking van mynlisensies op plase in veral die Hoëveld-gebied in Mpumalanga bedreig die voortbestaan van die landbou asook produktiwiteit.

Mnr. Lourie Bosman, die DA se verteenwoordiger vir die landbou, sê hy is bewus van sowat 300 lisensies vir bogrondse myne wat tans oorweeg word. “Die meeste bedrywighede vind in die omgewing van Carolina, Badplaas en Ermelo plaas”.


Hy sê derduisende lisensies is die afgelope paar jaar aan mynmaatskappye uitgereik sonder dat die boere op wie se grond die myne opgerig moet word in die proses geken is. “Die Departement van Mynwese heg geen waarde aan die landbou nie en ken lisensies toe bloot op grond van omgewingsimpakstudies. Daar bestaan nie ‘n balans tussen mynbou en die landbou nie!”


Besoedeling neem toe

Bosman meen die uiteinde van dié myne is geweldige besoedeling van die omgewing. Hy sê water versuur, en in sommige gevalle is dit later so suur dat dit nie herwinbaar is nie. Dít kan lei daartoe dat boere se gewasse nie aan nasionale standaarde voldoen nie, en derhalwe nie aangekoop word nie.


Bosman sê die meeste van die myne is oopgroefmyne, waaruit steenkool ontgin word. Hy sê die myne veroorsaak groot skade aan die grondoppervlak en die kanse op herstel is skraal. “Die lisensies word baie aan maatskappye toegeken wat nie die fondse het om die grond te rehabiliteer nie. Verskeie van hulle word gelikwideer en los die grond dan net so vir die boer”.


Infrastruktuur verval

Volgens Bosman word die steenkool wat ontgin word deur vragmotors vervoer wat grootskaalse skade aan die provinsie se paaie veroorsaak. “Daar is slaggate wat tot ‘n halfmeter diep is, en die bestuurders ry uiters gevaarlik.

Sommige inwoners van Morgenzon, wat op Ermelo werk, het selfs al hul werk opgegee omdat hulle nie kans sien om elke dag saam met die vragmotors op die pad te wees nie”.


Hy sê hulle het al verskeie kere met die departement vergader om voor te stel dat die steenkool met treine vervoer moet word, maar dit realiseer nie. “Ons het onlangs uitgevind dat die eerstegraadse steenkool wat so gemyn word, uitgevoer word en in die buiteland gebruik word om krag op te wek. So ons moet met die tweedehandse steenkool oor die weg kom, terwyl die land juis kragprobleme ervaar”.


Vrystaat loop ook deur

Intussen berig Timeslive dat 25 boere in die Vrystaat die afgelope 18 maande kennisgewings ontvang het dat prospekteerregte op hulle grond aan mynmaatskappye toegestaan is. Luidens die berig is dié boere in die omgewings van Viljoenskroon, Bothaville en Kroonstad.


Volgens mnr. Kobus Botha, regsverteenwoordiger vir sommige van die boere, het mineraalregte tot en met 2004 aan die eienaar van die grond behoort, maar nou is die staat in beheer van die hele land se mineraalregte.


Volgens Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, word die meeste graan in dié twee provinsies geproduseer. “Tesame met Noordwes produseer die twee provinsies 80% van die land se grane en hulle word die ergste deur mynbedrywighede geraak”.


Mnr. Jeremy Micheals, woordvoerder vir die Departement van Mynwese, sê volgens hulle jongste statistieke het hulle tussen 2004 en 2009, 20 163 prospekteeraansoeke ontvang. Hy sê 16 190 van dié aansoeke is aanvaar, en 3 653 is afgekeur. Van die 16 190 aansoeke, is myn- en prospekteerregte aan 5805 toegestaan.


Bron:

Timeslive


26 Januarie 2010