Dit is een van die bevindings van die sentrum vir omgewingsreg (CER) in sy nuwe verslag, Full Disclosure: The Truth about Mining Rehabilitation in South Africa. Die verslag dui aan dat die manier waarop die rehabilitasiekoste bereken en bekend gemaak word, veel te wense oorlaat.

Me. Christine Reddell, ’n prokureur verbonde aan die CER, sê die organisasie het inligting van elf mynmaatskappye op die Johannesburgse Effektebeurs bestudeer. Die meeste myne se openbaarmaking van die koste van rehabilitasie is vaag en onbetroubaar, terwyl die maatskappye se vermoë om die koste te dek twyfelagtig is. Sy sê die openbaarmakingsverslae weerspreek mekaar.

“Dit is dus onmoontlik om te bevestig of die geskatte rehabilitasiekoste wat mynmaatskappye aandui, akkuraat is en of genoeg geld eenkant gesit is om daarvoor te betaal en of daar ooit voldoende rehabilitasie plaasvind. Aandeelhouers en belastingbetalers kan mynmaatskappye en reguleerders dus nie verantwoordelik hou nie.”

Belastingbetaler moet opdok

Wetgewing bepaal dat mynmaatskappye moet begroot vir die rehabilitasie van myne nadat hulle uitgewerk is en voldoende geld daarvoor opsysit sodat die staat die myn met daardie geld kan rehabiliteer as die maatskappy sy plig versuim. As hierdie stelsel misluk, moet die belastingbetaler die rekening betaal, sê Reddell.

Mnr. Angus Burns van die Wêreldnatuurlewefonds het op die onlangse kongres van Mpumalanga Landbou op Witrivier gesê besluitnemers hou nie die langtermyngevolge van ongerehabiliteerde myne in ag nie en waarsku dat dit dikwels duisende mense raak omdat sulke myne water en grondwater oor groot gebiede in opvangsgebiede kan besoedel.

“Te veel myne word net laat vaar met enorme koste vir die omgewing en dikwels die belastingbetaler,” sê Burns. Een voorbeeld is die Maketeeskopmyn naby Luneburg wat sowat 45 jaar gelede net so gelos is nadat die mynmaatskappy sy bedrywighede gestaak het. Burns sê die strome wat van dié berg af vloei, word tot vandag toe nog besoedel en rehabilitasie van die omgewing is te duur. “In die een stroom is daar vir 10 km geen lewe nie,” sê hy.

'n Meer onlangse voorbeeld is die oënskynlike wanbestuur van twee mynrehabilitasietrusts vir die Optimum- en Koornfonteinmyn, sê Reddell.

Beskerm waterbronne

Burns sê daar is te veel riglyne en te min beleid met die toekenning van mynregte. Uit die staanspoor meen hy dit moet beleid wees om nie te myn waar waterbronne ontspring en hoëpotensiaallandbougrond deur aktiwiteite benadeel kan word nie. Volgens hom ontspring meer as 50% van Suid-Afrika se riviere in die oostelike, hoogliggende vleilande en grasvelde, wat maar 8-10% van die land se grondoppervlak beslaan. “ ’n Mens sou dink dis logies dat ons nie op hierdie 8-10% sal myn nie, maar dit lyk nie of besluitnemers besef hoe ver die impak van hul besluite strek nie.”

Hy sê daar is byvoorbeeld planne om in die bo-lope van die Pongola-opvangsgebied te myn. Hierdie kwesbare gebied word tans deur eensgesinde boere as weiveld bestuur. Hul benadering is dat hulle rentmeesters is oor die biodiversiteit van die gebied en hul verantwoordelike benadering maak dat nagenoeg 2 miljoen mense stroomaf drinkwater en water vir besproeiing uit groot opgaardamme soos die Josinidam het. “Dit maak mos nie sin om mynaktiwiteit te oorweeg in ’n gebied waar dit 2 miljoen mense se drinkwater en ekonomiese aktiwiteite kan bedreig nie.”

Burns sê daar is etlike voorbeelde van mynaansoeke in vleilande en bolope van opvangsgebiede. Hy waarsku dat kortsigtige besluite oor hierdie aansoeke die land duur te staan kan kom met aardverwarming wat in die toekoms ’n al hoe groter rol gaan speel.

“Pleks van mynaktiwiteite in hierdie gebiede moet ons beskerming in ons waterstelsel inbou en die ekologiese infrastruktuur van ons vleilandgebiede so goed moontlik herstel om volgehoue vloei in wintermaande en droë siklusse te verseker. Dis tog voor die hand liggend.”