Die mynmaatskappy Tasman RSA, wat beplan om binnekort op sowat 500 000 hektaar Karoogrond in die Wes-Kaap uraan te begin myn, hou reeds volgende week openbare verhore oor sy planne.

Landbouweekblad het vroeër berig dat Tasman RSA Mines sy gedetailleerde ontginnings- en ingenieursplanne aan die publiek bekend moet maak sodra alle spesialis-studies vir die omgewingsimpakstudie voltooi is.

Die skielike aankondiging van openbare verhore beteken die geraakte gemeenskappe sal nie genoeg tyd hê om duisende bladsye van spesialisverslae behoorlik te bestudeer voor dié verhore plaasvind nie.

Die verhore is as volg geskeduleer:

• Maandag 22 Februarie 17:30 by die Beaufort-Wes skougronde-saal;

• Dinsdag 23 Februarie om 17:30 in die Prins Albert NG Kerksaal;

• Woensdag 24 Februarie om 17:30 in die Laingsburg-vloedmuseum se ouditorium.

Na afloop van dié verhore het die publiek net tot middel-Maart om skriftelike vertoë te rig.

Dr. Stefan Cramer, ’n hidrogeoloog wat die proses dophou namens die Southern African Faith Communities’ Environment Institute, sê die beplande myne strek oor drie munisipaliteite, en volgens Tasman RSA se eie studies sal hulle 700 miljoen liter water per jaar gebruik.

“Dit is helfte van die algehele waterproduksie in die Sentraal-Karoo. Dit is ’n enorme bekommernis vir die plase waarop gemyn gaan word sowel as naburige plase. Soveel watergebruik sal die watertafel dramaties verlaag, en baie van dié water sal onherstelbaar besoedel in die omgewing terugkeer.

“Die haas waarmee die proses aangepak word maak ’n bespotting van die openbare prosesse wat voorgeskryf word.”

Die dokumente is hier  beskikbaar.

Tasman RSA Mines is op Facebook.