Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid vir landelike veiligheid, sê die drie moorde het op plase by Stellenbosch, Piet Retief en Kaapmuiden plaasgevind.

“Ons is bewus van gebeure in al die gevalle. Die polisie ondersoek al drie moorde, maar sover ons kennis strek, is nog geen verdagtes in enige van die voorvalle aangekeer nie,” sê Breytenbach.

Groot toename in voorvalle

Breytenbach sê Agri SA veroordeel die gebeure ten sterkste en doen ’n ernstige beroep op die polisie om die landelike beveiligingsplan landwyd toe te pas en landelike gemeenskappe te beveilig.

Agri SA is ook bekommerd oor die styging in ernstige geweldsmisdaad wat op plase gesien word. “Dis nie net moorde en aanvalle wat toeneem nie, maar ook ander gewelddadige misdade. Hierdie dinge pas nie in by ’n beskaafde wêreld nie.”

Wees paraat en sluit aan by veiligheidsnetwerke

Breytenbach bedank alle boere wat op noodoproepe in hul gemeenskappe reageer. Hy moedig boere aan om paraat te wees en in te skakel by hul plaaslike veiligheidsnetwerke.

“Skakel asseblief in by jul plaaslike veiligheidsnetwerke en werk saam met die polisie binne die raamwerk van die landelike beveiligingsplan om ons plattelandse gebiede se veiligheid te bevorder,” sê Breytenbach. 

Dra swart Maandag

Intussen doen die video van ’n emosionele mnr. Chris Loubser, plaasbestuurder van Franschhoek, die rondte om alle Suid-Afrikaners te versoek om eerskomende Maandag swart aan te trek om respek te toon teenoor die boere wat al hulle lewens in plaasaanvalle verloor het.