Turton en mnr. Fred Platt, hoof uitvoerende beampte van Accentuate, was die sprekers tydens ’n bespreking oor die waterkwessie wat deur die Pretoriase Persklub gehou is.

Turton sê die suksesvolle daarstelling van ’n werkbare waterekonomie berus op drie pilare, naamlik die herwinning van afvalwater, ontsouting en die oordeelkundige gebruik van grondwater.

“Die Australiese stad Perth het ’n bevolking van 1,2 miljoen mense en herwin sowat 120 miljoen liter suiwer water per dag uit riool. Kaapstad, met ’n bevolking van 4 miljoen mense, kan teoreties 400 miljoen liter water per dag herwin. Die stad oorleef tans op sowat 500 miljoen liter per dag. Die private sektor verbeter die bestaande tegnologie om water uit riool te herwin. Daar is dus reeds ’n geleentheid om die huidige watersituasie te verstewig,” het Turton gesê.

Onsekerheid oor water in Gauteng

Wat die ontsouting van water betref, het Turton gesê dat dit nie net op seewater van betrekking is nie. “Min mense besef dat Gauteng tans wateronseker is. Die rede is dat die Lesotho-hooglandwaterskema moontlik eers teen 2025 voltooi sal wees. Intussen het ’n studie deur die Departement van Waterwese en Sanitasie gewys dat die Vaalrivier brak word weens die hoë invloei van riool en mynwater uit ou goudmynbedrywighede. Ons gebruik tans suiwer water uit die Hooglandwaterskema om die soutkonsentrasie in die rivier te verdun. Dit is nie volhoubaar nie.”

Die antwoord daarvoor, meen Turton, is om ontsoutingsaanlegte in Gauteng op te rig om die riool en mynonsuiwerhede te verwyder. “Op daardie manier is tot 99% van waterherwinning moontlik.” Turton sê dat hy nie ’n toekoms vir die groot kusstede sonder ontsoutingsaanlegte kan sien nie. “Suid-Afrika het hawens nodig om volhoubaar ekonomies te groei en ontsoutingsaanlegte lê aan die hart van die strategie.”

Grondwatergebruik ’n sleutelelement

Die gebruik van grondwater is ’n geologiese roete en sal nie oor die hele land gebruik kan word nie, maar dit is ’n sleutelelement van die strategie. “Perth is weer ’n goeie voorbeeld daarvan. Water wat uit riool herwin is, word vir tot 25 jaar in ondergrondse bunkers opgegaar om te verseker dat daar genoeg water is. Hierdie manier om ondergrondse waterbronne aan te vul kan ’n groot rol in die bank van water speel, maar dit kan nie oral in die land gebruik word nie. Herwinning en ontsouting sal die grootste rol moet speel,” het Turton gesê.

Hy het verwys na die dubbelstroom-retikulasiemodel waarvolgens Suid-Afrikaners verskillende tipes water vir verskillende toepassings verkry. “Daarvolgens sal Suid-Afrikaners nie meer suiwerskoon water gebruik om toilette te spoel of hul stoepe skoon te spuit nie, maar gryswater wat met ’n afsonderlike pyp na hul huise gebring word. Drinkwater sal met ’n alternatiewe pypstelsel verskaf word. Die twee tipes water sal ook verskillende pryse hê.”

Turton sê Suid-Afrika se huidige waterinfrastruktuur is so afgetakel dat dit nie meer herstel kan word nie. Dit sal vervang moet word. “Terwyl die geleentheid daar is, kan ons die dubbelstroom-retikulasiemodel invoer en meer werk skep.”

Platt het gesê verouderde infrastruktuur is nie net ’n Suid-Afrikaanse kwessie nie, maar ’n globale een. “Ouer stede wêreldwyd moet almal begin om hul waterinfrastruktuur aan te pas. Dit is uiters belangrik om te verstaan dat daar geen logika daarin lê nie om drinkwater te gebruik om motors, borde en jou oprit te was en die tuin water te gee – alles teen dieselfde prys.”