Die doel met die veiling is om ’n mark te skep vir almal in die omgewing, maar veral vir opkomende boere, sê Jan Erasmus, GWK se streekbestuurder op Humansdorp.

“Die opkomende boere uit die omgewing weet nie altyd waar om hul diere te verkoop nie, en hulle ondersteun die veiling goed.” Die veiling is die eerste keer in Oktober 2017 aangebied. Herman Meyer, eienaar van die perseel, het met GWK ooreengekom om die veiling op sy perseel te hou. Hulle het die krale saam gebou.

Die laaste veiling was ’n Kersveiling. Volgens Herman was dit die grootste tot dusver. Sowat 280 beeste en 1 400 stuks kleinvee is op dié veiling verkoop. Jan sê die opkomende boere benut die geleentheid om hul diere aan mekaar te verkoop. Boerbokke is veral gewild. Die veiling word ook bygewoon deur verskeie kommersiële boere.

Kopers koop veral vir die slagmark aan. Herman sê die voordeel is dat enigeen hul diere kan bring om te verkoop, maak nie saak of dit een of tien diere is nie. Volgens sy vrou, Des, bring boere van Humansdorp, Jansenville, Graaff-Reinet en Middelburg hul vee na die veiling.

Hulle trek kopers van Knysna tot Makhanda (Grahamstad). Hoewel verkope tussen ’n individuele verkoper en koper kan voortgaan, raak die huidige verbod op veeveilings weens bek-en-klouseer duisende opkomende en kommersiële boere in die gebied.

“Mense sukkel om kop bo water te hou,” sê Herman. Vir baie van die opkomende boere was die verkoop van vee hul enigste bron van inkomste. Sodra die verbod opgehef word, sal die veiling kan voortgaan.

DUUR HOENDERS EN BABADOEKE

Volgens Jan is die veiling uniek, aangesien dit uit drie afdelings op dieselfde dag bestaan. Dit is die enigste in sy soort wat GWK aanbied. Die eerste veiling van die dag begin om 09:00. Enige los goedere waarvan iemand ontslae wil raak, kom onder die hamer. Plante, meubels, bande, plaaswerktuie, klere en selfs produkte vir die strand het al só ’n nuwe tuiste gekry.

Babadoeke was seker die vreemdste artikel nóg wat opgeveil is! Om 10:00 begin die gewilde veiling vir pluimvee en enige ander wettige kleiner dier, waar jy van hoenders, duiwe en eende tot varke en hase kan verkoop.

Die hoogste prys in dié afdeling op die afgelope Kersveiling was R1 600 vir ’n hoender, sê Herman. “Hoenders is baie gesog op die veiling. Daar is baie ernstige kopers en verkopers. Die telers is gesteld op gehalte en goeie teelmateriaal.”

SOSIALE SAAMTREK

Die groot geleentheid van die dag is die beeste en kleinvee, wat in die veilingslokaal verkoop word. “Dié lokaal is gewoonlik volgepak, en as die Springbokke die dag speel, is daar ’n TV beskikbaar.” Vir die Kersveiling het meer as 200 geregistreerde verkopers opgedaag, waarvan 77 opkomende boere was.

Volgens Herman is die verkoopsyfer deurlopend hoog en verkoop hulle 95% of meer van alle vee en 70%-80% van die los goedere. Hy sê besoekers maak ’n gesinsdag van die veiling.

Die boere bring hul vroue en kinders saam, en dit is ’n lekker saamkuiergeleentheid vir almal. Iets te ete (van kerrie-en-rys tot ontbytbroodjies) word verkoop. Daar is ook ’n gelisensieerde kroeg en kuier- deel met skerms waarop die veeveiling vertoon word.

Navrae: Herman Meyer, 082 656 6880; Jan Erasmus, 082 924 6096.