Hierdie is ’n waterskeidingsoomblik vir die land en almal in die landbou moet hulle nou agter die landbousektor verenig, het Mabuza gesê. 

Die geskiedkundige oomblik het by die Leriba-hotel en Spa in Centurion plaasgevind toe die voorsitters van die African Farmers’ Association (Afasa), die National African Farmers’ Union (Nafu SA), Agri SA en TLU SA hul voorneme onder die vaandel van die eenheidsforum vir die landbou, Asuf, verklaar het. Dr. Vuyo Mahlati (Afasa), mnre. Motsepe Matlala (Nafu SA), Dan Kriek (Agri SA), Louis Meintjes (TLU SA) en Japie Grobler (Asuf) het almal die ooreenkoms onderteken. 

Die onderlinge gesprekke binne Asuf sal uitloop op ’n nasionale indaba in November waar die ontwikkelingstrategie vir ’n inklusiewe en volhoubare sektor sy beslag sal kry. Dit sal bygewoon word deur die vier organisasies, staatsdepartemente wat met die landbou te doen het, landboukenners en beleidmakers. 

“Vandag is ’n belangrike mylpaal. Julle is op die regte pad, maar nog nie by die eindbestemming nie. Julle is amper halfpad daar en die eindbestemming is in sig. Wat julle vandag gedoen het, was om ’n belangrike platform te skep vanwaar ’n landbouplan en -strategie vir die land uitgekerf kan word,” het Mabuza gesê. 

Samewerking

Hy het die versekering gegee dat die Regering met hulle sal hande vat en saamstap totdat die eindbestemming bereik is. “Ons het vertroue in jul leierskap, ons glo in jul opregtheid en sal julle ondersteun.”

Van die gesamentlike kwellinge waaroor die organisasies reeds ooreengekom het, is deur mnr. Pitso Sekhoto, ondervoorsitter van Asuf, uitgespel.

Die eerste is dat die probleme met bestaande grondhervormingbeleid en -programme so groot is dat dit moeilik reggestel kan word. Dit moet in sy geheel herontwerp word. Hy het gesê dit behels onder meer om weg te beweeg van die verlede se foute, ’n behoorlike databasis by te hou, die proses doeltreffend te bestuur en opleiding en ondersteuning te bied.

Grobler het bygevoeg dit hou ook verband met die waarde van eienaarskap ten einde kollateraal te bekom, die aanvaarding dat private eienaarskap en die vrye mark die grondslag vir die ekonomie vorm en dat ’n landbou-ontwikkelingplan ekonomies volhoubaar moet wees.

’n Ander gesamentlike kwelling wat uitgesonder is, is ondersteuning aan nuwe boere, uitvoergedrewe groei vir nuwe boere, meer geleenthede vir vroue en die jeug, ’n gebrek aan vertroue, finansiële meganismes om nuwe boere te steun, nuwe metodes van grondwaardasies, die rol van die Land Bank met ontwikkelingsfinansiering en die armoede in die ou tuislande wat ingryping verg.