Volgens die jongste opname van die Suid-Afrikaanse landboumasjinerie-assosiasie (Saama) was Februarie se trekkerverkope van 485 eenhede byna 8% minder as die 526 eenhede van Februarie 2019. 

Volgens die verslag is die trekkerverkope vir Januarie en Februarie vanjaar nou byna 11% laer as in die ooreenstemmende maande verlede jaar.

Mnr. Greg Cadman, voorsitter van Saama, sê die huidige stroperverkope toon dat boere hulle voorberei vir ’n beter as normale opbrengs.  

Die stroperverkope van 18 eenhede in Februarie is 3 eenhede meer as die 15 eenhede in Februarie 2019. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope 21% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Met verwysing na die jongste produksieraming vir somergewasse sê Cadman dat die produksie van alle gewasse waarskynlik hoër sal wees as in 2019. “Dit geld veral vir die totale mielie-oes teen 14,6 miljoen ton, wat na verwagting byna 30% meer sal wees as in 2019.

“Die trekkermark bly uiters mededingend op grond van pryse. Ongeag die onlangse swak waarde van die rand gaan dié neiging in ’n prysgevoelige mark waarskynlik op kort termyn voortduur. Sentiment in die mark bly nietemin versigtig optimisties en na verwagting sal trekkerverkope in 2020 soortgelyk wees aan verkope in 2019.”