’n “Nuwe” Nafu SA (National African Farmers’ Union of SA) met ’n nuwe radikale standpunt oor grondhervorming is in Pretoria bekend gestel.


Mnr. Motsepe Matlala, wat tot in 2009 voorsitter was en nou weer herkies is, het op die bekendstelling gesê hy meen die Regering se bestaande beleid oor landbou- en grondhervorming moet geskrap word sodat op ’n skoon bladsy begin kan word.


“Ons moet werk vir ’n stelsel gegrond op die beginsel van 99 jaar huurpag. Met só ’n stelsel sal swart boere nie aandring op grond nie en wit boere sal nie van hul grond af verwyder word nie.


99 jaar

"Almal sal 99 jaar hê om voedsel te produseer en produksie sal op die sakelys wees, nie politiek nie.” Hy sê die Regering verdien lof vir sy pogings, “maar grondhervorming het nie gewerk nie”. Daar is nie na die begroting gekyk voor daar na die grond gekyk is nie.


“Dit kan dalk omstrede wees, maar Suid-Afrika is die enigste Afrikaland waar burgers eiendomsreg het. Ons eie boere gaan na Mosambiek en die Kongo waar hulle grond ingevolge 99 jaar huurpag kry. Hierdie is ’n onderwerp waarvan die haalbaarheid deur kundiges bestudeer moet word.


"Dit hoef nie emosioneel te wees nie. “Ons stel dit voor as ’n oplossing. Wat sal gebeur as ons dit nie op die tafel sit nie? Die grondloses sal die wapen opneem en ons wil dit nie hê nie. Ons moet met oplossings kom. Die Regering kan nooit die probleem van grond alleen oplos nie.”

Hy het verwys na aanhalings deur dr. Pieter Mulder oor grondeienaarskap waaroor Mulder onder kritiek moes deurloop. “Hy het bloot die kwessie op die tafel geplaas vir bespreking en niemand het die uitdaging aanvaar nie. Nafu sal.”


Duur grond

Matlala sê ’n boer gaan Zambië toe en boer op 10 000 ha wat hy verniet op huurpag kry. Dan begin hy sy produkte na Suid-Afrika uitvoer, terwyl almal in Suid-Afrika ten duurste vir grond betaal.


“Eers met beter beleid, beter belastingaansporings en haalbare finansieringsmodelle sal die uitvloei van ervare boere gestuit word. Dit is eenvoudig. Boere sal gaan waar dit die moeite werd is om te boer.”


Hy sê swart mense dink wit mense skuld hulle iets. “Dit moenie so wees nie. Ons het een vlag, een volkslied en een land. Wanneer dit ons pas, praat ons van eenheid, maar as dit ons nie pas nie, dan praat ons van swart en wit. Ek dink nie dit is reg nie.”


30 Maart 2012