Die Namibiese Landbou-unie (NLU), Namibiese Opkomende Boere-unie (NECFU) en Namibiese Nasionale Boere-unie (NNFU) het in 2019 saam met die departement van landbou, water en grondhervorming ’n nasionale herlewingstrategie vir die lewendehawebedryf opgestel om boere winsgewender te maak, die natuurlike hulpbronne te verbeter en meer werksgeleenthede te skep.

Hoewel die Covid-19-pandemie die begin van ’n inligtingsveldtog in die wiele gery het, word boeredae nou gehou om die boodskap by die boere te kry en planne in werking te stel. ’n WhatsApp-groep is gestig en YouTube-video’s is gemaak om die herlewingskonsep van beweiding oor te dra. ’n Bedryfskomitee gaan moontlik gestig word om toekomstige aktiwiteite te bestuur.

Mnr. Piet Gouws, voorsitter van die NLU, sê die lewendehawebedryf het jare gelede besef die weidings is onder groot druk weens bosindringing, klimaatsverandering en ondoeltreffende weidingsbestuur as gevolg van boerdery se lae winsgewendheid. Dit het veeboere gedwing om hoër druk op hul veld te plaas om rekeninge te kan betaal.

Dit het gelei tot die opstel van ’n nasionale weidingsbestuursplan met finansiering van die Europese Unie, wat in 2012 bekend gestel is. Verlede jaar se herlewingstrategie was ’n uitvloeisel daarvan.

“Die kerngedagte is om boere toe te rus met kennis en inligting om die weidingspotensiaal te laat herleef en selfs beter te maak as wat dit voorheen was. Dit moet gedoen word met doeltreffender veebelading, herlewing van mikro-organismes in die grond sodat die veld ná ’n droogte vinniger kan herstel, en verbetering van boere se finansies ter wille van volhoubaarheid,” sê Gouws.

Die landbou is in ’n moeilike tyd, nie net as gevolg van droogtes en swak weiding nie, maar ook weens veeverliese deur roofdiere. Plek-plek rig selfs olifante en sebras groot skade aan weidings aan.

“Ek is baie opgewonde oor die herlewingsplan wat boere in staat sal stel om op lang termyn volhoubaarder te boer. Ons beoog selfs ’n stelsel om veeboere te akkrediteer wanneer hulle tot ’n sekere herstelvlak gevorder het, sodat hulle meer geld vir hul rooivleis kan kry. Ons is in gesprek met Meatco en die handelsbanke daaroor en almal is geesdriftig oor die plan,” sê Gouws.

Dit gaan lank duur om die weidings te herstel, maar dit is ’n goeie alternatief vir boere, eerder as om nóg duur grond te koop. Die weiding en grond moet dus eerder herstel word.