Die dam was volgens The Informanté teen Sondagaand meer as 90% vol nadat dit in Desember, volgens die Namibiese waterkorporasie, slegs 9,8% vol was. Die invloei van die dam is hoog weens die hoë uitlaat uit die Hardapdam, nadat dié dam se sluise verlede Woensdag oopgemaak is.

Die dam naby Keetmanshoop in die suide van Namibië het ’n kapasiteit van 860 miljoen kubieke meter, ongeveer dubbel die houvermoë van die Theewaterskloofdam (480 miljoen kubieke meter). Dit is in Maart 2020 ingewy nadat dit in 2019 voltooi is.

Die dam word gevoed deur die Visrivier, wat ook die Naute- en Hardapdam voed wat hoër op in die rivier geleë is.

Volgens die webwerf van Salini Impregilo, die Italiaanse maatskappy wat die dam gebou het, is die dam deel van die eerste fase van die Neckartal-besproeiingskema en sal die water uit die dam ook gebruik word om 5 000 ha se gewasse soos lusern, druiwe en dadels in die woestynagtige gebied te besproei (bit.ly/3sCNau0).

Verskeie besoekers het Sondag die dam besoek nadat NamWater, Namibië se waterkorporasie, besoekers by die dam toegelaat het. 

Hardap

Swaar reën in die opvangsgebied van die Hardapdam, wat tot sterk invloei in die dam gelei, het vrese laat ontstaan dat Mariental, wat net onder die dam se wal is, weens hoë uitlaat uit die dam kan oorstroom.

Verskeie besighede en wonings is in 2006 onder water gelaat weens die oopmaak van die sluise om druk op die dam te verlig. Volgens ’n opdrag van die regering moet die dam se sluise by 70% oopgemaak word om soortgelyke oorstromings te voorkom. Die dam se sluise is verlede week oopgemaak nadat die dam 70%-kapasiteit bereik het. Inwoners is teen Vrydag gewaarsku oor die moontlikheid van oorstromings weens swaar invloei uit die opvangsgebied. Volgens die Mariental-munisipaliteit se Facebookblad staan die dam se vlakke tans op 69,8% nadat die uitvloei oor die naweek verhoog is om die dam se vlak af te bring. Nog geen ernstige voorvalle van oorstromings is tot dusver aangemeld nie.

Volgens Agriforum het die Namibiese padagentskap gewaarsku dat verskeie paaie beskadig is weens oorstromings, met sommige roetes wat gesluit is of bestuurders wat gewaarsku word om versigtig te wees wanneer hulle die roetes gebruik.