Altesaam 81 345 besoekers het Nampopark buite Bothaville besoek. Verlede jaar het 82 817 besoekers opgedaag.

’n Rekordaantal van 376 vliegtuie en 63 helikopters het verlede week besoekers na die 53ste Nampo-oesdag gebring, waar ’n rekordaantal van 775 uitstallers se produkte en dienste ten toon gestel is.

Mnr. Toit Wessels, Graan SA se assistent-bestuurder van bemarking en Nampo, sê die meeste mense wat na Nampo gevlieg het, was sakemanne of -vroue. “Ons het ook ’n toename gesien in huurvlugte.”

Minder onsekerheid

Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, sê die gemoedelikheid en optimisme onder produsente was merkbaar, veral ná die grondhervormingsdebat, droogte en lae pryse die afgelope jaar. “Dit is opmerklik dat die onsekerheid minder is as verlede jaar. Ek het ? oplossing- en ’n groeigedrewe ingesteldheid by produsente opgemerk.”

Volgens Graan SA het die Nasie in Gesprek-forum se gesprekspunte vanjaar verskuif van grondhervorming na dit wat nodig is om die landbousektor en die land se ekonomie te laat groei. Wat na vore gekom het, is dat die landbousektor gretig is om die plan vir ekonomiese groei te laat slaag. Kwessies wat bespreek is, sluit onder meer in dat die regering dringend aandag behoort te skenk aan finansiering vir swart boere, die uitbreiding van markte, die winsgewendheid van die sektor, ’n nasionale oesversekeringsubsidie, vaardigheidsontwikkeling, die verbetering van infrastruktuur asook navorsing oor veral die klimaat.

Handelskou met ‘menskant’

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die Nampo-oesdag se klem as handelskou sal deurlopend behou word, terwyl die “menskant” daarvan ’n onmiskenbare kenmerk daarvan bly, veral wat betref die vestiging van verhoudinge, vennootskappe en vriendskappe. “Dit is vir Graan SA ’n voorreg om ’n Nampo-platform te skep vir produsente, deur produsente. Om ons lede, meningsvormers, belanghebbendes, politici en selfs die landbou se pioniers op die Nampo te ontvang, is telkens ’n hoogtepunt.”

Volgens De Villiers bied die oesdag jaarliks aan die landbousektor ’n platform om een groot strategiese beplanningsessie te hou. “Individuele en kollektiewe planne vir die volgende jaar word hier beraam en teruggeneem na plaasvlak. Met die groter aanbod van tegnologie en geleenthede wat hier ontstaan, verg Nampo toenemend meer as ’n eendagbesoek. Dit is opmerklik dat – net soos die dryfvere en rigtinggewers van landbou – daar regdeur die Nampo-week ’n teenwoordigheid van insetverskaffers en landboubesighede se uitvoerende hoofde en ander besluitnemers op die terrein te sien is.”

Groter?

Dr. Dirk Strydom, Graan SA se bestuurder van graanekonomie en bemarking, sê vanjaar se 775 uitstallers het steeds aftrek gekry ten spyte van die heersende ekonomiese druk op verbruikers. Sommige uitstallers het rekordverkope gehad. “Volgens uitstallers het die besoekers aan hul uitstalruimte gesorg vir uitmuntende navrae en belowende leidrade – wat baie meer werd is as net ’n volume mense.

“Ons mikpunt is nie om groter te word nie, maar om die ervaring vir besoekers deurlopend op so ’n standaard aan te bied dat hulle volgende jaar weer wil kom. Die grootte van die terrein en die infrastruktuur wat goed versprei is, sorg reeds vir ’n rustiger ervaring wat gesinsvriendelik is en iets vir elkeen bied. Selfs die vliegveld het die rekordaantal vliegtuie en helikopters met gemak hanteer,” sê Strydom.

Die 54ste Nampo-oesdag sal van 12 Mei tot 15 Mei 2020 op Nampopark buite Bothaville plaasvind. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.