Hy het die landboutentoonstelling op Nampopark buite Bothaville verlede week vir die eerste keer bygewoon.

“Ek was al op landbou-ekspo’s in Chili en Argentinië. Dis asof daardie lande amper tot stilstand kom om daardie ekspo’s te ondersteun, maar ek sien dit nie hier nie. En hoekom nie? Want baie mense verstaan nog nie die belangrikheid van die sektor nie,” het Buthelezi in ’n onderhoud met Landbou.com gesê.

Buthelezi het gesê hy het op ’n vergadering met belanghebbendes in die bedryf amptenare opdrag gegee om met die samewerking van die sektor die belangrikheid van die landbou en die probleme wat die sektor die hoof moet bied, onder gewone Suid-Afrikaners se aandag te bring. “As hierdie bedryf nie presteer nie, raak dit ’n totale waardeketting en uiteindelik die hele ekonomie. Die landbou se bydrae tot die verbruikerprysindeks is sowat 16%. Vat dit weg, en dit gaan alle ander lewenskoste en rentekoerse beïnvloed. Die impak van die 2015-’16 droogte op die totale ekonomie was duidelik sigbaar.”

Hy het gesê in die 18 maande dat hy as adjunkminister dien, het hy verlief geraak op die landbou. “Ek het die SABC onlangs in ’n onderhoud geroskam dat sy onderhoudvoerders my eers ná 18 maande in dié portefeulje genader het vir ’n onderhoud, terwyl hulle my amper weekliks wou sien terwyl ek die adjunkminister van finansies was.”

Sfiso Buthelezi
Mnr. Sfiso Buthelezi, adjunkminister van landbou, op die 53ste Nampo-oesdag. Foto: Alani Janeke

Ontspan

Rondom die beleidsonsekerheid en kwessies wat talle boere tans bekommer, soos onteiening sonder vergoeding, het Buthelezi opgemerk: “Boere moet ontspan en doen wat hulle die beste doen: boer. Elke keer dat pres. Cyril Ramaphosa nog oor onteiening sonder vergoeding gepraat het, het hy gesê dit sal nie geskied ten koste van produktiewe landbouproduksie nie. Dit is en bly die regerende party se benadering en boere moet ontspan en konsentreer op hul boerderye.

“Mense reg oor die wêreld weet hoe goed Suid-Afrikaanse boere is. Hulle is een van ons waardevolste bates en hulle is een van ons kritiek belangrike vennote waarsonder ons nie kan oorleef nie.”

Chinese afvaardigings

Verskeie Chinese afvaardigings het vanjaar die Nampo-oesdag besoek. Dr. Dirk Strydom, Graan SA se bestuurder van graanekonomie en bemarking, het Dinsdag drie groepe Chinese afvaardigings toegespreek, sê mnr. Toit Wessels, Graan SA se assistent-bestuurder van bemarking en Nampo.

Hy sê die Chinese konsulaat gesels al geruime tyd met die span van Nampo oor Chinese besighede wat op die Nampo-oesdag wil uitstal. Chinese uitstallers wat onder meer veemedisyne en oormerkers vervaardig, sal reeds in September op Nampo Kaap uitstal.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.