Dié Nampo-Kaap sal in dieselfde week plaasvind as wat die Agri Megagroep die jaarlikse Agri Megaweek (sy geregistreerde handelsmerk) op Malmesbury wil aanbied.

Die landbou- en nywerheidstentoonstelling in Bredasdorp, asook die Agri Megaweek by die Môreson-megapark langs die N7-snelweg buite Durbanville, word vir die week van 12 tot 15 September beplan.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê in ’n verklaring Graan SA wil graag sy kundigheid by dié van Bredasdorp Mega Park NPC voeg om ’n bydrae tot die landbou in die Wes-Kaap te maak.

Hy sê boere in die Kaap word ’n uitstekende geleentheid gebied om die pryse en gehalte van trekkers en ander landboutoerusting tegelykertyd op een terrein te vergelyk. Die landbouskou gaan ’n platform vestig om boerderywenke uit te ruil en om van nuwe bewerkings- en verbeterde boerderymetodes kennis te neem.

Dié handel-en-vee-ekspo wil iets vir elkeen in die landbou bied en wil homself vestig as landbou-inligtingsverskaffer, mark, netwerkgeleentheid en bymekaarkomplek vir almal wat ’n belang het by die landbou.

Graan SA moedig potensiële uitstallers aan om vroegtydig uitstalruimte te bespreek en nie dié Kaapse landbouhoogtepunt mis te loop nie. Aansoekvorms sal van 1 Maart vanjaar op Graan SA en Nampo se webtuistes (www.grainsa.co.za | www.nampo.co.za) beskikbaar wees.

Me. Lynn-Ann du Preez, kommunikasiehoof van die Agri Mega-groep, het vroeër gesê dit was nie meer volhoubaar om die Agri Megaweek op Bredasdorp aan te bied nie en daarom het hulle dit nader aan Kaapstad geskuif.