Nadat pres. Cyril Ramaphosa in Maart ’n inperking weens die pandemie afgekondig het, het Graan SA aangekondig dat hy die oesdag van 12 tot 15 Mei verskuif na 11 tot 14 Augustus.

Volgens Graan SA is besluit om die oesdag tot 2021 uit te stel nadat verskeie belanghebbendes daaroor geraadpleeg is. “Tydens ’n pandemie wat na verwagting in September ’n hoogtepunt sal bereik, kan ons nie verantwoordelik voortgaan met ’n handelskou wat meer as 20 000 besoekers per dag lok nie,” sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, luidens ’n verklaring. “Ondanks maande lange beplanning, die deurlopende oorweging van die toestand van die pandemie en die aanvanklike besluit om die oesdag uit te stel, is die enigste logiese stap om die 2020 oesdag af te gelas.”

“Die koronavirus-pandemie het elke uithoek van die wêreld geraak,” sê mnr. Toit Wessels, assistentbestuurder vir Nampo. “Hoewel dit hartseer is dat die oesdag nie gaan plaasvind nie, is Graan SA se belangrikste verantwoordelikheid om seker te maak dat boere, uitstallers, belanghebbendes en personeel veilig bly. Daar is ook in dié stadium geen aanduiding van wanneer beperkings opgehef gaan word of wanneer dit veilig gaan wees vir skares mense om te vergader nie.”

Nampo gaan aan(lyn)

Hoewel die oesdag op die terrein nie kan voortgaan nie, beteken dit nie dat boere nie die beste kan geniet van wat Nampo en die landbou aanbied nie. Die 2020 Nampo-oesdag sal van 9 tot 12 September aanlyn aangebied word.

“Die visie van Nampo was nog altyd om ’n platform vir sakeondernemings te skep waar produsente nuwe tegnologie kan sien en toegang daartoe kry. ’n Virtuele platform kan hierdie geleentheid bied om te verseker dat die visie steeds in die gemak van u eie omgewing nagestreef kan word,” sê dr. Dirk Strydom, bestuurder vir graanekonomie en -bemarking by Graan SA.

Die tema is “Vind jou 2020 Agrivisie” en die virtuele Nampo-oesdag sal boere, verskaffers en kollegas verbind met baie van hul gunsteling-uitstallers en ’n magdom aanlyn inhoud van die bedryf plaaslik en internasionaal.

Die virtuele weergawe van Nampo sal ook uitgebreide vertoonure hê, met uitstallings wat daagliks van 09:00 tot 19:00 beskikbaar sal wees. Die oesdag sal op Saterdag 12 September om 14:00 ten einde loop. Besoekers sal deur middel van hul voorkeurtoestel kan inskakel met ’n internetblaaier, hetsy dit ’n telefoon, tablet of rekenaar is.

Die virtuele aanbieding van Nampo sal die meeste komponente gevat van wat die besoekers tydens die fisieke oesdag sou beleef het. Uitstallers kan hul produkte op die virtuele Nampo-platform vertoon en hul nuutste innovasies ten toon stel, terwyl besoekers kan aanmeld vir individuele konsultasies en deur die nuutste tegniese aanbiedings en produkdemonstrasies kan delf.

Die virtuele ervaring sal ook in die toekoms beskikbaar wees vir diegene wat nie die oesdag in persoon kan bywoon nie, met toekomstige uitstallers wat die geleentheid gebied sal word om hul fisieke teenwoordigheid by Nampo aan te vul met ’n virtuele duplikaat van hul standplaas of stalletjie, om sodoende ’n breër gehoor in 2021 en daarna te kan bereik.

Ander Nampo-geleenthede?

Graan SA sê hy is in gesprek met sy vennote van Nampo Kaap en Nampo Alfa Lewendehawe, Jag en Buitelewe. Albei skoue kan nie plaasvind soos oorspronklik geadverteer nie. Die uitslag van hierdie besprekings sal op 24 Julie 2020 bekend gemaak word.

As regeringsregulasies met betrekking tot die Covid-19-pandemie dit toelaat en die uitstel van hierdie twee gebeure moontlik is, sal die datums van die skoue oorweeg word vanaf 24 tot 26 September vir Nampo Kaap en 29 tot 31 Oktober vir Nampo Alfa Lewendehawe, Jag en Buitelewe.