Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het bekend gemaak dat vanjaar se oesdag tot 11-14 Augustus 2020 uitgestel is, mits die regering se beleid en riglyne die uitgestelde datum toelaat.

Die uitbreek van Covid-19 is ’n ongekende ervaring en die wêreldwye pandemie het organisasies in ’n kort tydperk op talle maniere beïnvloed,” sê hy. “Ons leef te midde van ’n onbekende jaar, en dinge rondom ons verander baie vinnig.” Volgens De Villiers is die gesondheid en veiligheid van besoekers, uitstallers, personeel, borge en die hele landbougemeenskap tydens die oesdag van uiterste belang. “Gelei deur dié prioriteite en beste praktyke was die besluit om die geleentheid uit te stel noodsaaklik.”

Altesaam 81 345 besoekers het Nampo 2019 bygewoon met 775 uitstallers en ’n rekord van 376 vliegtuie en 63 helikopters op die terrein. Die aanbied van die oesdag is volgens De Villiers van ekonomiese belang vir die korporatiewe, klein en middelslag-ondernemings van reg oor Suid-Afrika.

“Besoekers en uitstallers het in 2019 sowat R28 miljoen tot die plaaslike ekonomie bygedra, veral vir dorpe in die Vrystaat en Noordwes soos Bothaville, Klerksdorp, Orkney, Potchefstroom en Stilfontein. Baie kleinsake-eienaars is afhanklik van die inkomste-inspuiting wat moontlik gemaak word deur dié landbou-platform,” sê hy.Volgens dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking, sal Graan SA toegewyd bly om risiko-ingeligte besluite te neem en alle belanghebbendes op hoogte te hou.Die Nampo Kaap-skou sal steeds van 9-11 September 2020 op Bredasdorp, Wes-Kaap voortgaan.