Mnr. Toit Wessels, assistentbestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, sê die feit dat dié vliegtuie en helikopters almal binne ’n bestek van net meer as drie uur moes land, het vir fyn beplanning in die lugruim gesorg.

“Omtrent elke minuut het ’n vliegtuig of helikopter geland.” Lugverkeerbeamptes moes ook bontstaan met die kommunikasienetwerk wat in ’n stadium onder groot druk verkeer het.

Wessels sê dit is opmerklik dat meer groter vliegtuie, wat meer passasiers kan dra, vanjaar gesien word.

Verlede jaar het nooit meer as 159 vliegtuie op een dag by Nampopark geland nie.

Volgens Wessels is hulle dankbaar dat sowat 22 400 besoekers die terrein gister besoek het. “Die groter terrein beteken ons kan meer mense inpas.”

Die oesdagkomitee moes op 18 Mei 2011, toe die munisipale verkiesing op Woensdag van die Nampo-oesdag gehou is, die terrein teen ongeveer die middel van die dag sluit omdat dit plek vir net sowat 19 500 besoekers gehad het. Daar was groot verkeersopeenhopings en die kos op die terrein was uitverkoop vanweë die aantal wat mense na Nampopark gestroom het nadat hulle gestem het.

Sedertdien is die terrein heelwat vergroot en 775 uitstallers is vanjaar op die Nampo-oesdag. “Ons is stampvol en daar was nog voornemende uitstallers op die waglys,” sê Wessels.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.