Dít was die konsensus onder paneellede by ’n Nasie in Gesprek-bespreking wat Maandag 14 Mei by Senwes in Klerksdorp plaasgevind het. Dit was die eerste in ‘n reeks besprekings wat op die Nampo-Oesdag plaasvind. 

Die kwessie onder bespreking was die groot gaping tussen ryk en arm en hoekom Suid-Afrika ná meer as 20 jaar van demokrasie nie dié probleem suksesvol kan takel nie.

Die paneelbespreking is gelei deur prof. Nick Binedell van die Gordon Institute of Business Science aan die Universiteit van Pretoria.

Op die paneel was me. Nompumelelo Runji (’n politike kommentator en Ph.D.-student in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria), mnre. Prince Mashele (politieke ontleder en kommentator), Tommie van Zyl (uitvoerende hoof van ZZ2), Mpumelelo Mkhabela (politieke ontleder en joernalis) en Vito Rugani (Suid-Afrika se grootste wortelprodusent van Greenway Farms).

Die gesprek het gehandel oor die historiese en politieke nalatenskap, die huidige Regering en hoe veral die grondkwessie oor meer as net die kommersiële landbougrond gaan.

“Ongelykheid, armoede en werkloosheid is ’n driedubbele probleem waarmee ons sit,” het Runji gesê. Haar navorsing lê veral klem op ongelykheid en die rol van sosiale en tradisionele media om dit die hoof te bied. 

Volgens haar is daar in die afgelope twee dekades vordering gemaak, maar verandering gebeur nie gou genoeg om armoede werklik te verlig nie. “In 2006 is 66% van die bevolking as arm beskryf, en tans is dit sowat 55%. Maar ons het gestagneer en mense migreer al hoe stadiger na hoër inkomstegroepe.

“Ons moet eerlik wees oor die staat se onvermoë en hoe die Regering misluk het om hulpbronne te bestuur. Dienslewering is ’n sleutelfaktor, want dit raak armes én rykes. As die Regering nie bevoeg is nie en ook nie die politieke wil het nie, verloor almal. 

“Met die nuwe era van (pres. Cyril) Ramaposa is daar wel ’n nuwe optimisme,” meen Runji.

Volgens Mashele is armoede ’n probleem wat grootliks die swart bevolking raak. “Armoede onder Afrikaners staan op 0,6%. As ons eerlik is oor armoede, moet ons erken dat dit ’n probleem onder swart mense is.”

Volgens Van Zyl is dit nodig om sensitief te wees oor die werklikhede binne die Suid-Afrikaanse en Afrika-konteks.

“Moenie die mag wat die landbousektor het om armoede te verlig, oorskat nie. Die landbou alleen sal nie die werkloosheidsprobleem kan oplos nie. ’n Wyer uitkyk is nodig. Die grootste probleem is dat ons nie die leierskap het wat in 1994 aan ons beloof is nie. Daar móét gelykheid wees, maar jy kan dit nie bewerkstellig as staatsinstellings nie funksioneer nie.”

Mashele het gesê die EFF praat baie oor grondonteiening en dat dit nie net wit boere is wat bang is dat hulle hul grond kan verloor nie. Stamhoofde is ook bang hulle verloor hul mag. 

“Stamhoofde bewe hieroor. Hulle is bang. Die stamhoofde is nié die trustees van grond namens mense nie, maar hulle misbruik hul posisie om stamgrond te verhuur en hul sakke vol te stop. Dit gaan nie oor die mense nie. Stamhoofde melk die stelsel. Politici sal hulle egter nie daaroor aanvat nie, want landelike gemeenskappe is hul ‘stemreserwes’ tydens verkiesings, en die stamhoofde het baie invloed oor hul mense,” volgens hom.

“Ons kan nie kapitaal leen teen die grond van ons voorvaders nie. Ons kan dus nie daardie grond verbeter nie. Die stelsel (in kommunale gebiede) onderdruk entrepreneurskap in landelike gebiede,” het Mkhabela gesê.

Van Zyl het gesê die land se leiers moet nou begin konsentreer op die oplossings en nie net die probleem nie.

“Daar is ’n insinking in staatsinstellings, en mense wat wel toegang kry tot grond danksy hervorming, misluk weens ’n gebrek aan ondersteuning van hierdie instellings. Dit gaan daadwerklike leierskap verg om mense weer te inspireer. Die staat moet as ’n skeidsregter vertrou kan word, maar dit is moeilik met soveel korrupte amptenare.”