Aerobotics bied boere innoverende tegnologie om hul oeste te bestuur deur inligting oor onder meer boomtellings en die gesondheid van bome te bied.

Die maatskappy is in 2014 deur mnre. James Paterson en Benji Meltzer op die been gebring en is die voorste maatskappy wat die toepassing van kunsmatige intelligensie in die landbousektor betref.

Paterson sê dit was nog altyd sy groot strewe om die landbou en tegnologie met mekaar te versoen. “Dit is ongelooflik om met ’n talentvolle span en landbougroepe te kan werk en saam ’n bydrae tot die toekoms van landbou te lewer. Ons is trots om tegnologie van hoë gehalte in Suid-Afrika te bou en dit na die wêreld te versprei.”

Hy sê hoewel dit die begin van hul avontuur is, was Aerobotics reeds suksesvol met die insameling en ontleding van inligting oor bome en vrugte wat insiggewend vir die landbousektor is. “Ons word reeds ondersteun deur kommersiële boere en onlangs ook oesversekeringsmaatskappye in Amerika wat akkurate inligting oor hul kliënte se bome benodig.

“Ons is opgewonde om Naspers as vennoot te hê. Die vennootskap verteenwoordig die toevoeging van vaardighede in die vestiging van globale tegnologiemaatskappye saam met die kapitaal wat benodig word om Aerobotics vir, en saam met, die landbousektor uit te brei.”

Me. Phuthi Mahanyele-Dabengwa, hoof van Naspers in Suid-Afrika, sê voedselsekerheid is noodsaaklik in Suid-Afrika en Aerobotics bied ’n platform wat ingespan kan word om dit te verseker.

“Die noodsaaklikheid van voedselsekerheid asook die landbousektor as noodsaaklike infrastruktuur is deur die Covid-19-pandemie beklemtoon. Die jong, volkome plaaslike span by Aerobotics het ’n tegnologiese oplossing van wêreldgehalte geproduseer wat nou ook toegang tot die Amerikaanse mark verkry het. Dié innoverende tegnologie pak maatskaplike kwessies aan en is presies die tipe beginneronderneming waarin Naspers Foundry belang stel.”

Die belegging is onderhewig aan goedkeuring deur die mededingingsowerhede.

Naspers Foundry is aan die einde van 2018 van stapel gestuur. Die doel van die inisiatief is om die tegnologiesektor in Suid-Afrika te versterk deur finansiering aan talentvolle, ambisieuse tegnologie-entrepreneurs te verskaf. Die inisitiatief het verlede jaar R30 miljoen in die aanlyn skoonmaakdiens SweepSouth belê.