Die aantal boorgate in die Kaapse Vlakte-akwifeer het met 30% toegeneem sedert die onlangse droogte. Water word toenemend vir gebruik in die landbou, nywerhede en huishoudings onttrek. Daar is tans nie ’n doeltreffende moniteringsmeganisme wat die beweging van die akwifeer se watervlak dophou nie.

In ’n poging om die akwifeer beter te verstaan en so ’n proaktiewe bestuurstelsel te ontwikkel, het die Wêreldnatuurfonds (WWF) met GEOSS bande gesmee en na die publiek uitgereik vir samewerking. GEOSS is ’n onafhanklike grondwater-konsultasie maatskappy van Stellenbosch en het reeds goeie sukses bereik met die proaktiewe bestuur van ondergrondse water in die Sandveld.

Vir dr. Klaudia Schachtschneider, bestuurder van die WWF se program vir waterbestuur, is dit belangrik om te weet hoeveel boorgate watter volume water uit die akwifere onttrek. “Ons is gemoeid met die volhoubaarheid van die akwifeer. Ons uiteindelike doel is om ’n platform te skep waar gebruikers selfregulerend is.”

Mnr. Dale Barrow, ’n geohidroloog en ’n direkteur van GEOSS, sê die watervlak van die boorgate is net so belangrik soos die volume water wat onttrek word. “Met die watervlak-monitering kan bepaal word hoe die akwifeer reageer op die onttrekking. Hoe meer inligting ons kan inwin, hoe akkurater sal ons begrip van die akwifeer wees en hoe beter gaan die onttrekking bestuur kan word. Ons soek vrywillige deelname van almal wat boorgate het sodat ons die langtermyn-uitwerking van die verhoogde onttrekking kan bepaal.”

Meer as 200 boorgate

Tans is daar reeds ses deelnemers by die projek betrokke. Die presiese getal boorgate wat water uit die Kaapse Vlakte-akwifeer onttrek is onduidelik, maar Barrow glo dit kan meer as 200 wees. Hoewel dit ’n wetlike voorskrif is dat alle boorgate geregistreer moet wees, veroorsaak die rompslomp rondom die registrasieproses by die departement van water en sanitasie dat baie boorgate nie geregistreer word nie.

Die WWF en GEOSS sal help om moniteringstoerusting op boorgate aan te bring en alle inligting sal vertroulik en op ’n anonieme grondslag gebruik word. Die WWF het ook die Universiteit van Kaapstad genader om ’n selfoontoepassing te ontwikkel wat intydse inligting aan elke gebruiker kan verskaf.

Kaapse Vlakte akwifer
Die WWF het ook die Universiteit van Kaapstad genader om ’n selfoontoepassing te ontwikkel wat intydse inligting aan elke gebruiker kan verskaf

Tans is daar ’n vraelys vir hierdie doel ontwikkel om te bepaal watter inligting watergebruikers graag sal wil hê. Die vraelys kan hier aanlyn ingevul word.