Mnr. Maluta Netshaulu, senior bestuurder vir die landbou by Nedbank, sê dit verbeter die doeltreffendheid van waterbenutting met 25% en is ’n bedryfsoplossing wat in pas is met die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling. “Suid-Afrika se voortslepende droogtetoestande vereis dringende optrede om die toenemende gevolge van klimaatsverandering, veral in die landbousektor, te verminder.”

Die gebruik van skadunet verminder ook die toediening van stikstof, bied boordsanitasiebesparings, bevorder die groei van jong bome sodat hulle vinniger volwassenheid bereik en verbeter vruggrootte en kleur.

Netshaulu sê skadunet is duur met ’n geraamde koste van R240 000 en meer per hektaar vir ’n permanente struktuur. “Ons glo egter dat die voordele die koste regverdig. Ons finansieringsplan, wat oor vyf jaar strek, sal boere in staat stel om skadunette te span sonder dat hul kontantvloei onder druk geplaas word. Ons bied die finansiering aan bestaande en ook nuwe kliënte sonder dat hulle sekuriteit hoef te bied. Die voorwaarde is egter dat hulle die bank in totaliteit gebruik.”

Die termyn van die finansiering is tot 60 maande en die terugbetaling in pas met die boer se kontantvloeiposisie en oestyd. ’n Deposito van 20% word wel vereis om arbeidskoste te dek, maar geen tasbare kollateraal word vereis vir die lening nie hoewel die kliënt se finansiële posisie wel ten opsigte van normale kredietbeginsels in ag geneem word.

Die bank hoop om veral uitvoerprodusente van produkte soos sitrus, neute, wyn, druiwe, rosyne en bessies landwyd by die plan te betrek.

Netshaulu sê die plan is begin November bekend gestel en daar is reeds groot belangstelling onder bestaande kliënte. “Ons verwag ’n toename in aansoeke volgende jaar namate boere daarvan hoor en besef wat dit vir hul produksie kan beteken.”