Weermodelle dui tans aan dat redelik ligte neerslae van 20 mm of minder kan voorkom, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Dié reën saam met die nat en vogtige toestande wat tans heers, hou risiko’s in vir veral produsente wat soja-, droë- en grondbone wil oes.

Oestyd vir dié drie gewasse is hoofsaaklik in Mei aangesien die groeityd teen einde April verstryk. Aangesien soja- en droëbone se peule oopspring as dit ryp word, is dit noodsaaklik dat die oesproses op die regte tyd begin en vinnig afgehandel word. Derhalwe is die bepaling van oeskapasiteit altyd ’n belangrike oorweging met die plant van dié gewasse, sê Van den Berg. “Grondbone word uit die grond gehaal en met blare en peule in hopies gepak om te droog of dit word met nuwe tegnologie in sakke geoes om op die land te droog vir ’n korter tydperk voordat dit verwerk kan word. Daar is dus ’n redelik lang tydperk waartydens nat en vogtige toestande skade aan die oes op die land kan veroorsaak.”

Afdroging

Die gebiede waar die risiko hoër is, is hoofsaaklik die Oos-Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal vir soja- en droëbone, asook Noordwes en die besproeiingsgebiede van die Noord-Kaap waar grondbone geproduseer word. “Die minimum lugvog of relatiewe humiditeit in die eerste deel van April vir Lichtenburg in Noordwes was so hoog soos 90%, terwyl dit in die ooreenstemmende tydperk in 2019 onder 50% was. Dit gee ’n aanduiding dat die lug baie vogtig is en dat afdroging vanjaar baie stadig gaan plaasvind.”

Dele van Noordwes het die afgelope maand meer as 100 mm reën gemeet. Ná ’n droë tydperk in Februarie en begin Maart het dele van Mpumalanga soos Bethal, Middelburg en Witbank in die laaste deel van Maart en eerste deel van April 100 mm of meer reën gehad. Van den Berg sê ook in dié streke sal gewasse stadig afdroog. In sommige gebiede is landerye te nat om te kan stroop.

“Op dié stadium kom dit voor asof die eerste twee weke van Mei die beste tyd kan wees om in Mpumalanga en die Oos-Vrystaat te oes, want verdere reën kan teen die middel en die tweede deel van Mei verwag word,” sê Van den Berg.

“Dit sal nie raadsaam wees om voor einde April in veral Noordwes en die Vrystaat grondbone te begin oes nie, aangesien daar ’n kans is op reën in die laaste week van April is. In die laaste deel van Mei kan weer ligte reën voorkom. Die eerste deel van Mei kan dus benut word, hoewel daar steeds ’n risiko vir reën bestaan.”

Winterreën

Van den Berg raai produsente in die winterreëngebiede aan om so vinnig moontlik hul grondvoorbereidings te doen sodat hulle kan plant wanneer voldoende reën voorkom.

“Voorspellings dui tans aan dat daar ten minste twee geleenthede in Mei gaan wees waar reën kan voorkom. Die eerste en laaste week Mei toon ’n redelike goeie kans vir ten minste 10 mm reën.”

Van den Berg sê die risiko bestaan vir droër toestande aan die einde van die winterreënseisoen, wat tot opbrengsverliese kan lei vir aanplantings wat te laat gedoen is. Te vroeë aanplantings kan egter groei en ontwikkeling te vinnig stimuleer en waterverbuik verhoog. Bewaringsbewerking kan boere help om grondvog optimaal te benut.