Bogenoemde is bekend gemaak deur mnr. Christopher Gavor, Grondwaardeerder-generaal. Die hersieningskomitee wat ondersoek moet instel na en aanbevelings doen of die Grondwet gewysig moet word, het intussen goedkeuring by die Nasionale Raad van Provinsies gekry om sy aanbevelings eers op 30 November in te dien.

In die eerste kwartaal van die 2018-’19 boekjaar het die kantoor van die Grondwaardeerder-generaal 312 waarderings vir restitusie gedoen en 23 vir die herverdeling van grond en ontwikkeling. In die tweede kwartaal van dieselfde boekjaar is 357 waarderings vir restitusie en 54 vir die herverdeling van grond en ontwikkeling gedoen. 

Die waarderings het nog nie tot aankope gelei nie. Die provinsiale departemente vir landelike ontwikkeling en grondhervorming moet die waarderings in ’n koopaanbod omskakel.

Mnr. Andrew Madella, ANC-LP, het gesê die Grondwaardeerder-generaal se grootste wapen is om grondhervorming ekonomieser te maak. Hy wou weet waarom die waarderings nog nie tot ’n koopaanbod gelei het nie.

Me. Nosilivere Magadla, ANC-LP, het gevra of die kantoor nog relevant gaan wees as ’n grondwetwysiging goedgekeur word om onteiening sonder vergoeding toe te laat. Gavor is ook gevra om die omstandighede te verduidelik waarin ’n eiendom as nul-waarde gewaardeer word.

Nul-waarde

Gavor het verduidelik dat sy kantoor al eiendomme van die Departement van Openbare Werke se waarde op nul bereken het vir grondhervormingsdoeleindes. 

“Ons het na verskeie faktore gekyk: markwaarde, subsidie van die Regering, die geskiedenis van die aankope en die huidige gebruik van die eiendom.” 

As voorbeeld het hy genoem dat ’n eiendom van die Departement van Openbare Werke wat leeg gestaan het en waaraan die Regering baie meer geld bestee het as die waarde van die gebou, ’n scenario is wat uitloop op ’n nulwaarde. 

“Jy kan ook kyk na voorvalle van private eienaarskap waar die grond in onbruik is. Die ekonomiese waarde van die eiendom is dus nul. Wanneer jy kyk na markwaarde oorweeg jy die beleggingspotensiaal. Wanneer die huidige gebruik is dat die grond braak lê, dan raak dit die markwaarde op so ’n manier dat jy na ’n negatiewe waarde of ’n nulwaarde beweeg.

“Maar ons het dit nog nie so vir ’n private eiendom bereken nie. Ons het slegs nulwaardes bepaal vir eiendomme wat deur die Regering besit word.”

Die feit dat ’n waarde geheg word aan private grond wat braak lê, het mnr. Justice Mnguni, ANC-LP, rooi laat sien. Volgens hom word ’n verkeerde opvatting geskep dat net staatsgrond se waarde as nul gewaardeer kan word en nie ook wit boere se grond wat braak lê nie. 

Hy het hom ook sterk uitgespreek oor private waardeerders wat jare lank die pryse opgestoot het en hulle só aan witboordjiemisdaad skuldig gemaak het. 

Gavor het ook gesê dat sy kantoor 18 waardasies van private damme vir die Departement van Water en Sanitasie gedoen het. 

Dit blyk dat nie die eienaars of die departement enige probleme met die uitslag van die waardasies gehad het nie, want geen besware is aangeteken nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.