Wanneer beleggers verstaan wat die land se beleid oor buitelandse grondbesit is, sal hulle nie huiwer om steeds in die land te belê nie. Dit is een van die boodskappe wat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, in sy begrotingsrede tuisgebring het.

Verskeie belanghebbendes van die landbousektor en selfs die banksektor het dit reeds duidelik aan die Regering gemaak dat sy voorstel, dat ’n grondplafon van 12 000 hektaar ingestel moet word, beleggersvertroue sal skaad. “Ons is oortuig daarvan dat enige belegger, buitelander of landsburger, beleidsekerheid soek. Wanneer hulle verstaan wat die beleid is, sal hulle hulself daarvolgens aanpas.”

Hy het lig gewerp op hoe die voorstel lyk. Die grondplafon vir ‘n kleinskaalse kommersiële plaas is op 1 000 hektaar gestel, vir ‘n mediumskaal kommersiële plaas is dit 2 500 hektaar en vir ‘n grootskaalse kommersiële plaas 5 000 hektaar. Die 12 000 hektaar-plafon is ’n “spesiale kategorie” wat slegs gemik is op bosbou, wildsplase en hernubare energieplase, veral plase vir windenergie.

Enige oorskotgrond tussen dié kategorieë sal onteien en herverdeel word. Vergoeding sal betaal word volgens die billike en regverdige benadering soos in die Grondwet uiteengesit, het Nkwinti gesê.

Wat is die Regering se maatstaf?

Daar was na die eienaarskappatrone van grond in die Suid-Afrikaanse konteks sedert die aanvang van die Wet op Naturelle-grondbesit van 1913 gekyk, en ook na wat Europa en sommige Latyns-Amerikaanse lande ervaar het.

Nkwinti het gesê die Suid-Afrikaanse ondervinding wys dat plaasgrond oor hierdie tydperk oor die algemeen stabiel gebly het, slegs versteur deur die aantal mense wat die landboubedryf verlaat het of daartoe toegetree het. Die gemiddelde plaas se grootte van 950 hektaar het tot 750 hektaar, tussen 1918 en 1950, gedaal en huidiglik is dit tussen 750 hektaar tot meer as 2 000 hektaar.

In Europa is die algemene gemiddelde plaasgrootte 14 hektaar, terwyl dit in Latyns-Amerika tussen sowat 72 hektaar (Brasilië) en 84 hektaar (Chile) strek. Die algemene neiging is dat buitelanders met plaaslike eienaars saamspan om grond te besit, gegewe dat die Suid-Afrikaner die meerderheidsaandeelhouer is.

Rakende grondeise het Nkwinti aangedui dat die Kommissie op die Herstel van Grondregte 55 973 nuwe grondeise teen 15 April ontvang het.

Regering misken landbou-organisasies

Mnr. Pieter Groenewald, LP van die VF Plus, het Nkwinti beskryf as ’n volstruis wat sy kop in die sand druk. Hy het verwys na die grondplafonne wat die Regering wil instel.

“Die regering het nou afstand gedoen van sy aanvanklike beleid van 30% herverdeling van wit blanke landbougrond na swart boere toe. Ek is teleurgesteld in u, want die ANC kan duidelik nie sy woord hou nie. U het voor die verkiesing, nadat u knie gebuig het voor die EFF, gekom met die 50/50 verdeling en gesê landbou-organisasies kry die geleentheid om voor einde Maart met voorstelle te kom, maar toe maak die President ’n aankondiging daaroor.”

Groenewald het gesê dié stap is om landbou-organisasies te misken en dat daar dis geen nut is vir hulle om nog voorstelle te maak nie.