Die komitee is saamgestel uit lede van die georganiseerde landbou, landboubesighede, die Regering, akademici en navorsingsinstansies. “Die breë verteenwoordiging gee aan die komitee kredietwaardigheid en verseker dat die aanbevelings deur die komitee omvattend, prakties en relevant is, met kennis en navorsings-uitkomste (wat) tans van pas is, wat in ag geneem word,” lui ’n verklaring deur die NLBR.

Die NLBR het die komitee saamgestel as deel van afdeling sewe van die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte (Wet 47 van 1996), waarvolgens die raad ’n mandaat het om spesiale ondersoeke te onderneem oor kwessies wat die landbou raak. “Die droogte waarvan sekere dele van die land tans probeer herstel, is een so ’n kwessie,” sê mnr. Zama Xalisa, die hoof- uitvoerende beampte van die NLBR.

Raad moet bedryf verenig

Mnr. Harry Prinsloo, ondervoorsitter van die NLBR en voorsitter van die droogte-komitee, sê die komitee moet sy voordele in landboubesighede, die banksektor, akademici, die staat en ander belanghebbendes byeenbring om die ernstige saak te takel.

Volgens Prinsloo moet die komitee betroubare inligting, kennis en van die voorste analitiese instrumente gebruik en met ’n slim droogte-rampbestuursplan vorendag kom.

Die komitee sal bewyse lewer van die ekonomiese impak van die droogte op sleutel-landboubedrywe in Suid-Afrika, en moontlike toekomstige scenario’s as die verskillende uitkomste van die droogte daarstel.

“Die Wes-Kaap, dele van die Oos-Kaap, die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes steier tans onder die (effek) van dié verwoestende droogte. Dringende beleidsreaksies word nou vereis om die ekonomie teen ’n swaar slag te beskerm. Dit is iets wat selfs kan voorkom dat die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) bereik word,” sê Xalisa.

Droogte tot nasionale ramp verklaar

Intussen het die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake die droogte tot ’n nasionale ramp verklaar. News24.com berig dat dié stap daartoe lei dat die Regering rampbestuurstrukture moet versterk en ondersteun om rampbestuursplanne in werking te stel.