Die vooruitsigte vir nog reën lyk ook beter as wat aanvanklike voorspellings verwag het, sê mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige.

“Voorspellings dui tans aan dat sowat 50 mm reën voor die winter – veral einde Maart en begin April – oor die grootste deel van die somerreëngebied kan val. Die uitsondering is die westelike dele van die Noord-Kaap.”

Winterreënval

Wat voorspellings vir die winterreënstreek betref, sê Van den Berg ligte reën is moontlik in die laaste deel van Maart en die eerste deel van April. Tropiese vog wat weswaarts oor die land af beweeg, kan saam met ’n frontale stelsel ligte reën bring. “Werklike winterreën word eers verwag in die laaste deel van April en begin Mei.”

Produksietoestande

Droogteskade het in sekere dele van die Oos-Vrystaat en Mpumalanga begin voorkom, met min reën wat sedert die eerste week van Februarie oor dele voorgekom het. Reën van 10 mm tot 40 mm in die tweede week van Maart oor groot dele van die somerreënstreek het verdere droogteskade aan gewasse in veral die oostelike produksiegebiede beperk.

“Permanente skade het egter reeds by mielies en sojabone by veral Vrede, Villiers, Frankfort, Standerton, Bethal en Middelburg voorgekom. Verwagte rekordoeste het afgeneem tot gemiddelde opbrengste en in sommige gevalle selfs ondergemiddelde opbrengste,” aldus Van den Berg. “Met die droogte het die weerstand van gewasse ook verswak en siektes soos blaarskroei het ’n tol geëis in hierdie gebiede.”

Van den Berg sê gemiddelde tot ver bogemiddelde mielie-oeste is wel oor ’n groot deel van die somerreënstreek moontlik, veral in die gebiede wat wes van die N1 lê.

Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê hoewel die reën dalk te laat was vir sommige gewasse in die ooste waarvan boere al vir kuilvoer begin afsny het, “lyk die oeste op die lande in die ooste vandag beter as ’n week gelede.”

Rossouw is baie optimisties oor die potensiaal van die land se somergraanoes. “Die westelike dele van die land se gewasse lyk baie goed. Ons verwag dat rekordoeste in veral Noordwes aangeteken gaan word. Die gewasse in die westelike en sentrale dele van die Vrystaat het ook baie goeie potensiaal.”

Risiko’s

Van den Berg sê drie risiko’s kan nog die somergraanoes benadeel.

•          Ryp. Die huidige oes lyk goed oor groot dele en die goeie kans op verdere reën verminder die kans dat grootskaalse rypskade voor einde April kan voorkom.

•          Hitte-eenhede. Die afname in hitte-eenhede is waarskynlik die grootste risiko as verdere bewolkte en nat toestande gaan voorkom.

•          Siektes. Gewasse se verlaagde weerstand as gevolg van die droogtetoestande, asook laer temperature en vogtige toestande kan daartoe aanleiding gee dat pitgewig en pitte van swak gehalte ’n wesenlike probleem word vir die grane in die Oos-Vrystaat en Mpumalanga.

“In geheel gesien word die risiko dat ’n grootskaalse ramp die somergraanoes kan benadeel daagliks kleiner, veral met die droogterisiko wat kleiner word,” sê Van den Berg.