AfriForum se dringende aansoek om ’n interdik teen die Parlement se oorweging van die komiteeverslag, is verlede week deur ’n volbank regters van die Wes-Kaapse Hooggeregshof van die hand gewys.

Me. Thandeka Mbabama, die DA se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê indien die ANC en die EFF die week stem vir die aanvaarding van die verslag in beide die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad vir Provinsies, sal die party nie huiwer om hom na die hof te wend nie.

AfriForum se hofsaak het gefaal omdat hy nie die Parlement toegelaat het om sy proses te voltooi nie. Die hof het bepaal dat dit belangrik is dat die Parlement die ruimte gegun word om sy werk te doen.

Foute

Die komiteeverslag het na bewering ernstige prosessuele foute, sê adv. Glynnis Breytenbach, die DA se skaduminister van justisie. Die beweerde foute hou veral verband met die openbare deelnameproses wat deur artikels 59, 72 en 118 van die Grondwet verlang word. Die ANC en die EFF het glo meer as 80% van die geskrewe kommentare, wat teen die wysiging gekant is, geïgnoreer.

Die DA sê die verslag oor die geskrewe kommentare is nog nie eens gefinaliseer nie, maar die ANC en die EFF het die finale komiteeverslag goedgekeur.

Die komiteeverslag beveel aan dat:

  • Artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word sodat dit uitdruklik aandui dat onteiening sonder vergoeding ’n wettige opsie vir grondhervorming is;
  • Die Parlement dringend ’n meganisme moet instel om die nodige wysiging aan die relevante gedeelte van artikel 25 van die Grondwet te maak;
  • Die Parlement ’n grondwetlike wysigingswetsontwerp ter tafel moet lê, die nodige prosedure moet voltooi en dit moet aanvaar voor die verkiesing.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.