“Van 15 tot 17 September kan ryp voorkom oor die Sentraal-, Oos- en Suid-Vrystaat, die suidelike helfte van die Noord-Kaap en die binneland van die Oos-Kaap,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

In teenstelling hiermee word warm toestande met maksimum temperature bo 30 °C oor die sentrale tot oostelike dele van die land en selfs bo 35 °C oor die westelike en noordwestelike dele in die laaste week van September en eerste deel van Oktober verwag.

Winterreën

’n Frontale stelsel gaan na verwagting tot die naweek reën oor dele van die winterreëngebied bring. Neerslae van 5 mm tot 20 mm word oor die Swartland, die Kaapse metropool en die Wynlande-gebied verwag. “Minder reën word verwag met hierdie stelsel oor die Suid-Kaap,” sê Van den Berg.

In die eerste week van Oktober verbeter die kans op reën oor die grootste deel van die winterreëngebied, veral in die Suid-Kaap, met redelik goeie neerslae van meer as 10 mm wat moontlik is. Temperature in die winterreëngebied sal in die tydperk matig tot koel bly met minimum temperature van onder 10 °C en gereelde bewolkte toestande wat tot ten minste die tweede helfte van Oktober voorspel word.

“Hoewel ’n baie goeie koringoes verwag word, kan die koel, vogtige en bewolkte toestande ’n uitwerking hê op die gehalte van veral koring in die rypwordingsproses,” sê Van den Berg.

Die afgelope week het die swaarste neerslae oor die Suid-Kaap en die Tuinroete voorgekom met George, Knysna en Mosselbaai wat byna 50 mm gekry het. Ligter neerslae het oor die res van die Wes-Kaap, gedeeltes van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat voorgekom. “Hoewel ligte neerslae in die afgelope week oor die suidwestelike dele van die Wes-Kaap en selfs Namakwaland voorgekom het, lyk dit asof ’n somerreënvalpatroon begin vorm aanneem en die reënval meer suidoos-, oos- en noordoos begin skuif.”

Somerreën

Baie min reën word vir bykans die hele somerreëngebied vir die res van September verwag. Die kans op reën tot die naweek het verswak. “Toestande verbeter weer vir die oostelike dele van die land, wat insluit die Oos-Kaapse kusgebiede en aangrensende binneland, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en aangrensende dele van die Vrystaat en Limpopo in die laaste week van September, maar veral vanaf die tweede week van Oktober.”

Die kans op goeie neerslae oor die somerreëngebied verbeter teen die middel tot laaste deel van Oktober en vanaf November oor die meer westelike en noordwestelike binneland.