Vandag begin dra die maatskappy vrugte vir aandeelhouers. 

Meer as 50 kommersiële en 2 500 kleinskaalse suikerrietboere het in die 2012-’13 seisoen noodgedwonge ’n maatskappy gestig om hul geoeste suikerriet te vervoer nadat die vervoermaatskappy wat dit altyd behartig het, skielik sy bedrywighede in die omgewing gestaak het.

Die maatskappy Zululand Agricultural Holdings (ZAH) is op 6 April 2013 gestig met 95% van die boere se ondersteuning. Die kommersiële én die kleinskaalse suikerrietboere in die omgewing lewer suikerriet aan die Amatikulu-suikermeule.

ZAH het ’n langtermyn-huurooreenkoms met Tongaat-Hulett geteken vir die depot en kantoorruimte by Amatikulu. Volgens mnr. Dave Littley, besturende direkteur van ZAH, is daar in die seisoene 2013-’14 en 2014-’15, ten spyte van die erge droogte wat toe in die gebied geheers het, bykans 860 000 ton suikerriet vervoer.

“Ons het in 2016 Super Group Melmoth se suikerrietvervoerbedrywighede oorgeneem en ons hou aan met die ontwikkeling van ons werknemers se vaardighede. Ons ondersoek ook ander geleenthede, benewens suikerriet, om ZAH se besigheid uit te brei.”

Volgens mnr. Alan Gordon, hoofbestuurder van ZAH, is alles moontlik gedoen om resultate te lewer wat die begroting oorskry nie.

“Sedert 6 April 2013 tot nou het ZAH se inkomste met 400% gegroei en die vloot vragmotors het van slegs 15 tot 42 gegroei. Ons gee aan 120 mense werk en ons kliënte-basis groei jaarliks met nagenoeg 15%. Alle aandeelhouers het in die 2016-’17-seisoen ’n dividend ontvang. Ons bedrywighede het nou al uitgebrei na die vervoer van hout en ons sal voortgaan om nuwe geleenthede vir ZAH te ondersoek.”