Die drankbedryf verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat drankverkope vir wegneem ook op Vrydae toegelaat word, maar is steeds bekommerd dat verkope oor naweke nie toegelaat word nie, veral aangesien die staat nie redes kan aanvoer wat so ’n besluit regverdig nie.

Suid-Afrika is nou op vlak 2 van inperking met die aandklokreël wat ’n uur later begin. Dit geld nou van 23:00 tot 04:00. Dit beteken eet- en kuierplekke sal teen 22:00 moet sluit.

Die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkvereniging (Salba) sê die verhoging van die perk vir binnenshuise samekomste tot 250 persone en tot 500 persone buite is ’n gunstige stap om besighede wat drank verkoop, soos kroeë, tavernes en restaurante, te help om te herstel. Ingevolge die vlak 2-regulasies word drankverkope vir wegneem van Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 18:00 toegelaat.

Soos reeds toegelaat op vlak 3 kan geregistreerde wynkelders, wynplase, mikro-brouerye en mikro-distilleerders proeë toelaat en kan alkohol vir wegneem verkoop word gedurende die normale gelisensieerde ure, wat naweke insluit. Dit mag egter nie ná 22:00 plaasvind nie.

Los verbod

Mnr. Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê die beperkinge op die verkoop van alkohol het net die onwettige drankbedryf versterk en verdere skade berokken aan wettige bedrywe wat sukkel onder die irrasionele maatreëls. Die drankbedryf ondersteun die inisiatiewe van die staat waar inenting teen die covid-19-virus aangemoedig word.

Die biervereniging van Suid-Afrika (BASA) het die verslapping van die inperkingsregulasies versigtig optimisties verwelkom. Die vereniging sê die verdere verslapping van die beperkinge sal ietwat verligting bring vir die besighede wat oorleef het. Die drankbedryf het 161 dae se inkomste verloor weens die tydelike verbod op die verkoop van alkohol wat vier keer ingestel was in die tydperk vanaf 26 Maart 2020 tot 25 Julie 2021. Meer as 240 000 werksgeleentede is ook in gedrang gebring.

BASA waarsku egter dat as die voorspelde vierde Covid-19-golf Suid-Afrika in Desember gaan tref en daar weer ’n verbod op die verkoop van drank ingestel word, sal dit die herstel uitwis wat nou bewerkstellig kan word. Die bedryf en die meer as 450 000 mense wie lewensbestaan daardeur ondersteun word, kan nie nog ’n alkoholverbod bekostig nie.

Die vakverbond Cosatu het die verslapping van sommige beperkinge verwelkom in die hoop dat dit die nodige verligting sal bring vir sektore van die ekonomie wat erg daardeur geraak word. Die organisasie is bly dat sommige beperkinge op die verkoop van drank opgehef is en het verbruikers gevra om verantwoordelik te drink in ’n poging om te sien dat die staat nie weer ’n verbod op die verkoop van drank instel nie.

Die maksimum mense wat begrafnisse en verassingsdienste mag bywoon, word beperk tot 50. Begrafnisse mag nie langer as twee uur duur nie en geen nagwake en samekomste word toegelaat nie.