Mnr. Hannes Kriek (77), en sy vrou, Constance (69), het op Sondagoggend 20 Junie ná 02:00 agtergekom die voerskuur op hul plaas Silwer Eike is in ligte laaie.

Daar is die Saterdagaand ’n polisieklopjag in die plakkerskamp uitgevoer, wat net aan die oorkant van die grondpad na die plaas geleë is. ’n Onwettige sjebien is gesluit.

Volgens Kriek se skoondogter, Elmien, het familielede reeds op Saterdagaand om 21:30, ’n halfuur nadat die polisie aan die gebied onttrek het, gesien die veld aan die Krieks se kant van die grondpad brand. Hulle het dié brand geblus.

Nadat die tweede brand ’n paar uur later opgemerk is, het Kriek sy seun, Corné, gebel wat op ’n naburige plaas boer. Corné en Elmien het hulle na Silwer Eike gehaas, maar daar was min wat hulle kon doen. “Toe ons hier aankom, is elke liewe voermied reeds aan die brand gesteek en ons kon geen voer red nie. Ons kon wel die trekkers verskuif.”

Elmien sê hulle het die brandweer van Meyerton ontbied, wat binne minute op die toneel was. “Maar jy kan nie brandende voer doodspuit nie. Al wat hulle kon doen, was om water te spuit waar die vlamme begin lek het aan die grond rondom die brandende voerbale, om te keer dat dit versprei. Hulle het ook iemand op gereedheidsgrondslag hier gehad ingeval die wind sou opsteek.”

Sowat 2 000 bale het in die slag gebly wat wintervoer vir sowat 800 beeste moes verskaf. Die familie boer met Brahmane en plant ook droëlandweiding aan. Ná die afgelope somer se goeie reën was dit die eerste winter in jare dat hulle genoeg voer gehad het om hulle deur te sien.

Kriek het breë brandpaaie aan weerskante van al sy grensdrade. “Hulle het oor daardie brandpaaie geloop en die voer aan die brand kom steek. Dis glad nie ’n vuur wat na die voer toe gehardloop het nie,” sê Corné.

Meyerton brand
Sowat 2 000 bale het in die slag gebly wat wintervoer vir sowat 800 beeste moes verskaf. Foto: Verskaf

’n Saak van saakbeskadiging is by die polisie op Meyerton aangemeld. Corné glo die brande is opsetlik gestig uit wraak vir die polisie se sluiting van die sjebien en sê sy pa het niks met die polisie-optrede te doene gehad nie. Hulle boer al 40 jaar lank in die distrik, handhaaf goeie verhoudings met alle lede van die gemeenskap en het nog altyd hulp vrylik verleen waar dit nodig was. “Die vraag wat onwillekeurig by my opkom, is wat gaan nou vorentoe gebeur wanneer die polisie in die omgewing optree teen onwettige bedrywighede. Gaan daar dan weer êrens ’n boer skade ly? Is dit hoe dit gaan werk?”

Dié vermeende aanval volg ná ’n soortgelyke voorval waar ’n boer van Bapsfontein se skuur deur plakkers aan die brand gesteek is uit wraak vir ’n uitsettingsbevel. Die boer, mnr. Jurry Kuipers, het niks met die uitsettings op ’n naburige stuk grond te doene gehad nie.

Dankbaar vir hulp

Die Kriek-gesin is baie dankbaar vir gemeenskap van Meyerton wat dadelik kom help het, onder meer mnr. Kobus le Grange wat met sy grondverskuiwingstoerusting die brandende bale onder die skuur se dak help uitskuif het. Hulle was ook oorstelp van dankbaarheid oor die voer wat Boere Droogtehulp SA aan hulle geskenk het.

“Daardie Sondagaand om 20:00 kry ek ’n oproep van Boere Droogtehulp af. Dis mense van wie se bestaan ons geen benul gehad het nie. Hulle sê toe ons moet rustig slaap, Dinsdagoggend sal hulle die eerste vrag voer by ons hê,” vertel Elmien. “Dinsdagoggend, soos beloof, het hulle het vir ons voer afgelaai. Dit was op my skoonpa se verjaardag. Ons kan nie genoeg dankie sê vir hierdie organisasie nie.”

Mnr. Stephen Venter van Vaalpark, wat betrokke is by Boerehulp SA, sê hy het ’n oproep van iemand uit die gemeenskap ontvang wat hom bewus gemaak het van die Krieks se nood. “Binne ’n dag of twee het ons sowat 100 bale bymekaar gemaak en gaan aflewer sodat die beeste voer vir die volgende dag of drie het. Maar daar moet ook ’n langtermynplan wees. Ons ry komende Sondag weer deur met ’n klomp bale.”

Hy sê Boerehulp SA is ’n organisasie sonder winsmotief en is 100% van skenkings afhanklik. Mense wat wil help, kan die organisasie se Facebookblad of webtuiste www.boeredroogtehulpsa.org/ besoek vir kontakbesonderhede.