Die eerste koue front vir die week word vanmiddag in die suidwestelike dele van die land verwag. Dit sal Woensdag deur ’n groter koue front opgevolg word.

Die eerste koue front sal sterk noordwestelike winde oor die suidelike binneland en die suidelike en suidoostelike kusgebiede meebring. Swaarder reënval word van Dinsdag af in die westelike dele van die Suid-Kaap verwag. Oorstromings kan oor gebiede voorkom, veral die Overberg en die kusgebiede van die Tuinroete.

Volgens die weerdiens word ligte sneeu Dinsdagoggend oor die suidwestelike bergpieke verwag, terwyl bitter koue toestande oor die grootste dele van die Wes-Kaapse binneland kan voorkom. Reënbuie sal die westelike gebiede van die Oos-Kaap later bereik en na die Sneeu- en Winterberg versprei.

Ligte sneeuval word oor die hooggeleë gebiede en bergreekse in die westelike gebiede van die Oos-Kaap, onder meer die Tsitsikamma, Kouga, Sneeu- en Winterberg, verwag.

’n Tweede, groter frontale stelsel sal van Woensdag tot Donderdag baie koue, nat en winderige toestande oor die grootste deel van die Wes- en Oos-Kaapse binneland veroorsaak. Ontwrigtende sneeuval kan oor die Oos-Kaap se hoër bergagtige gebiede verwag word.

Die weerdiens waarsku dat grond in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap weens noemenswaardige reënbuie baie na aan die versadigingspunt is en dat oorstromings kan voorkom, veral in informele nedersettings.

Die weerdiens maan veeboere om die nodige voorsorgmaatreëls te tref en te verseker dat vee en troeteldiere genoegsame skuiling en water het.