Dié regulasie is vandeesweek in die Staatskoerant afgekondig nadat pres. Cyril Ramaphosa op Maandagaand 23 Maart ’n nasionale staat van inperking van 26 Maart tot 16 April afgekondig het.

“Dit (die aktiwiteite) sluit die oes en opberging van landboukommoditeite in. Hierdie regulasie beklemtoon weer dat die hele voedselwaardeketting, vanaf plaasverwante bedrywighede, landbouverwerking en voedselvervaardiging, logistiek en verwante dienste, groothandel- en kleinhandeldienste, en alle ondersteuningsfunksies wat die doeltreffende lewering van die landbouvoedselstelsel verseker, funksioneel behoort te wees om te verseker dat daar voldoende, veilige en voedsame voedsel beskikbaar is,” lui ’n verklaring van die departement van landbou.

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het verbruikers gevra om nie paniekinkopies te doen nie, want dié tipe aankope veroorsaak kunsmatige skaarstes in die voedselvoorsieningsektor.

Die ingrypingsmaatreëls wat die regering en die landbouvoedingswaardeketting in werking gestel het, is:

1. Om die beskikbaarheid en stabiliteit van voedselvoorraad te monitor. Die monitor het ’n verslagdoeningsiklus van 24-48 uur het. Die departement sal gereelde bywerkings rakende hierdie moniteringsaktiwiteite bekend stel. Met uiterste gevalle waar die beskikbaarheid van stapelvoedselprodukte bedreig word, sal die departement van landbou by die departement van handel, nywerheid en mededinging aanbeveel om toepaslike uitvoerbeperkings op te lê.

2. Om te verseker dat noodsaaklike landbouproduksie-aktiwiteite, soos die oes van produkte, ononderbroke voortgaan. Dit word gedoen ingevolge streng voorskrifte soos vervat in regulasie 398 van die Wet op Rampbestuur en die departement van gesondheid se Covid-19-higiëneprotokol. Die departement stel die veiligheid van die land se boere en plaaswerkers by en weg van die werk hoog op prys.

Navrae rakende die Covid-19-situasie binne die sektor kan aan die departement gerig word deur e-pos aan COVID-19info@dalrrd.gov.za te stuur of die tolvrye nommer 086 024 6640 te skakel. Die volledige verklaring is hier beskikbaar.

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het ’n kort dokument saamgestel wat aandui watter van die regulasies op die landbou betrekking het. Klik hier om die dokument te lees.