Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê selfs in die dele waar dit tot dusver baie droog was, het neerslae voorgekom. “Die lesing van die reënmeters in dieselfde distrik verskil egter van plaas tot plaas en die emosies van die boere wissel van groot vreugde tot versigtige teleurstelling.”

Van die distrikte het tot 80 mm reën aangeteken en die neerslae by Williston het bygedra dat die Sakrivier weer geloop het. Daar was egter boere wat net 5 mm tot 10 mm reën aangeteken het. Die gemiddelde is 35 mm en op enkele kolle het tot 90 mm geval. “Dié patroon weerspieël die reënneerslag in die onderskeie distrikte in die droogtegeteisterde suidelike dele,” sê Jansen.

Agri Noord-Kaap kaart 20-27 April 2020
Grafika van reënval (20-27 April) verskaf deur Agri Noord-Kaap

Volgens hom is die werklikheid egter dat die produksietoestande teen einde April, met ryp wat eersdaags te wagte is nadat sneeu reeds op die Drakensberge en die Malutibergreeks begin voorkom, vinnig afneem.

“Dit beteken die groeiseisoen vir die somerreënvalgebied is verby. Die onlangse neerslae het darem met die aanvulling van die ondergrondse watertafel en die vlak van gronddamme gehelp vir winteropslag wat hier en daar op die veld kan voorkom. Van veldherstel is daar nou nie meer sprake nie en ’n taai winter kan vir veeprodusente in die rampgeteisterde dele voorlê.”

Goeie vooruitsigte

Hy het die hoop uitgespreek dat die goeie vooruitsigte vir reën voortduur vir die winterreënstreke in dele van Namakwaland, asook dele van Loeriesfontein en Calvinia.

Agri Noord-Kaap gaan voort met noodlenigingswerk in die droogtegeteisterde dele. Mieliereste langs die Oranjerivier word gebaal vir wintervoer, maar die projek is van skenkings afhanklik om die vervoerkoste te delg. Die reën wat in die besproeiingsgebiede voorkom, laat die plantmateriaal verkleur voordat die mielies gestroop is, wat die gehalte van die hooi benadeel.

“Agri Noord-Kaap kan nie sy teleurstelling genoeg uitspreek oor die regering wat hom net op een rampverklaring ten opsigte van Covid-19 toespits en nie ook op die droogterampverklaring in ’n gebied wat op sy knieë is nie,” sê hy. “Die mense en bedrywe landwyd wat hul inkomste nou in die tyd van inperking verbeur, ervaar dit wat die produsente van die Noord-Kaap die afgelope vyf tot sewe jaar reeds beleef.”