Wes van Carnarvon, Sutherland en Fraserburg, en die somerreëngebied noord van Calvinia, op na Brandvlei, die hele Boesmanland, 100 km noord van Loeriesfontein, 100 km van Kakamas en by Pofadder het baie min of geen reën nog geval nie, vertel me. Elria Steinberg van Boks Voer Vir ’n Boer, ’n aanlyn projek wat boere help om hul maandelikse voeraankope te betaal, terwyl hulle steeds wag vir reën.

“Dit is moeilik om te besef dat daar nog geen uitkoms vir daardie gedeeltes was nie. Daar heers reeds sewe jaar droogte wat nou na jaar agt oorloop. Daar het wel strepies reën van 15 mm tot 30 mm geval, terwyl die gemiddelde reënval van 200 mm tot 280 mm is.”

Die projek probeer juis om boere in hierdie gebied by te staan waar daar geen weiding oor is nie. “Die boere meng daagliks voer. As ons as Jan Publiek moeg is om te hoor van die droogte, hoe dink jy voel daardie boere en hul gesinne?”

Sedert die projek verlede jaar in Julie op die been gebring is, is boere in hierdie gebied in staat gestel om meer as 5 000 sakke voer, oftewel sowat 252 bakkievragte van 20 sakke elk, aan te koop.

Hulle hou vanjaar op 16 Junie ’n groot makiete met Ricus Nel op Mpumalanga se Hoëveld om geld in te samel en hoop om genoeg borge te kry sodat van die Noord-Kaapse boere wat hulle bystaan, ook die geleentheid kan bywoon.

“Aan al die lesers van Landbouweekblad wat oor die jare tot droogtehulp wou bydra, maar nie die geleentheid gehad net nie, hier is jou kans om werklik ‘n verskil te maak. Klim saam met ons in die skoene van ’n boer wat al meer as agt jaar snags rondrol en wonder waar die volgende dag se voer vir sy diere vandaan gaan kom.”

Besoek boks-voer-vir-n-boer.myshopify.com of die projek se Facebookblad vir nog inligting.