Me. Chrislene Retief, van die plaas Cramond in die distrik Askham, sê hulle kon vandeesweek ’n welkome 32 mm meet. Die veld op dié plaas het dankbaar gereageer nadat 40 mm oor die Paasnaweek in die omgewing geval het. “Altesame het ons nou so die helfte van ons jaarlikse 250 mm reën ontvang.”

Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie van die plaas Allendale in die Koopmansfontein-streek naby Barkly-Wes, sê hulle is baie dankbaar vir die reën wat hulle gedurende Maart vanjaar kon meet. “Sowat 130 mm van die 200 mm wat ons dié seisoen gekry het, het in Maart geval.” Van der Ryst sê hulle hoop op nóg reën voor die winter aanbreek, aangesien die provinsie al lank in die greep van die droogte is. Sy gemiddelde jaarlikse reënval is 320 mm.

Volgens mnr. Johannes Möller van die plaas Vaalhoek by Keimoes het hulle sowat twee derdes van hul jaarlikse reënval gekry, “waaraan ons die laaste paar jare begin gewoond raak het”.

Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê groot dele van die Noord-Kaap het nog net twee derdes van hul gemiddelde reënval gekry. “Veral die suidoostelike dele van die Noord-Kaap het nog min reën gehad.”

Hy sê die reën wat voorgekom het, het wel op die regte tyd geval. “In Februarie, Maart en April vind 70% van die veldgroei in die provinsie plaas. Die bewolkte weer wat oor dele voorkom, sal ook die veld help om voor die winter te groei.”

Droogte oor groot deel van somerreënstreek gebreek

Volgens Van den Berg het die reën wat die afgelope paar weke voorgekom het, daartoe bygedra dat die droogte oor ’n groot deel van die somerreënstreek gebreek is. “Tot drie weke gelede was daar dele in Mpumalanga waar die mielies swaargekry het, met plek-plek droogteskade, maar dinge lyk nou beter in dié provinsie en in Limpopo.”

Volgens Van den Berg is die tydperk van April tot Julie baie onvoorspelbaar wat betref veranderinge in see-oppervlaktemperature en gevolglik weervoorspellings. Hy sê dit is tans te vroeg om enige betroubare voorspellings te kan maak vir die komende maande en die volgende seisoen. “Ons is wel versigtig optimisties dat ligte reën gedurende Mei oor die droogte-geteisterde Wes-Kaap kan voorkom.”

Mnr. Wayne Venter, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê reën kan Vrydag oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, die oostelike en sentrale dele van die Oos-Kaap, die westelike dele van die Vrystaat sowel as Noordwes en die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal voorkom, met kanse vir reën oor dele van Mpumalanga en KwaZulu-Natal Sondag. “Maandag sal ’n stelsel oor die westelike dele van die land inbeweeg, wat reën oor dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap tot gevolg sal hê.” Vir die res van volgende week word slegs verspreide buie tans oor dele van die land verwag.