Mnr. Johan Viljoen van die plaas Orangeputs by Williston, wat sy veld met groot sorg bewei het, maar onlangs sy laaste skape verkoop het, sê in die afwesigheid van “bietjie reën wat selfs net kan help om lewe in die veld te behou”, wonder hy oor die moontlikheid vir die herstel van uitgetrapte veld as dit goed kom reën.

“Iemand sê nou die dag al reën dit goed, gaan die nadraai van wat reeds gebeur het, ons in elk geval later in die jaar vang. Ons hoofreënseisoen is Februarie tot Maart. Tot begin April wys die weerwebwerf AccuWeather vir ons gebied nie voldoende reën wat die droogte kan breek nie.”

Hy sê grasreserwes moet dringend opgebou word, dog reën ná Maart beteken nie veel vir gras nie. “Dit beteken ons mis nóg ’n reënseisoen.”

Skade
Ook mnr. Brand du Toit, voorsitter van die boere-unie Williston, meen die veld is permanent geskaad. “Die veld sal nie binne ’n reënseisoen of twee regkom nie.”

Hy is nie baie optimisties dat die veld tot sy vorige toestand sal herstel nie, tensy boere ’n baie groot en doelbewuste poging aanwend om dit te laat herstel. Die finansiële druk op boere sal dít egter moeilik maak.

In sekere dele van die Noord-Kaap is daar nie meer plantmateriaal in die veld oor nie, sê mnr. Willem Symington, dagbestuurslid vir natuurlike hulpbronne by Agri Noord-Kaap. “Al kry ons reën én goeie opvolgreën, sal die veld steeds baie tyd nodig hê om tot sy volle kapasiteit te herstel.”

As dit weer begin reën, sal boere moet skuld terubetaal. Dit gaan boonop ’n tydsame proses wees om kuddes weer op te bou. Hy meen dit gaan 12 maande duur voor boere weer vee het om te verkoop. “Dit reën mos nou nie lammers en geld nie.”

Du Toit sê hy ervaar ook ’n “abnormale ontploffing” van roofdiere, soos jakkalse, wat hy sukkel om te bekamp. Hy sê die wild vrek ook vanweë die droogte, daarom is die druk op die skape groter.