Volgens Du Toit was daar geen interaksie meer tussen boereverenigings en die provinsiale departement van grondsake en van landbou nie. Hoewel hy glo dit gaan lank vat om weer vertroue op te bou, sê Du Toit wisselwerking tussen die georganiseerde landbou en die provinsiale regering kan net beter word.

’n Interministeriële taakspan onder leiding van me. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister in die Presidensie belas met Beplanning, Monitering en Evaluering, het pas aan die Kabinet terugvoering gegee oor ’n ondersoek na beweerde korrupsie en wanbestuur in die provinsie.

Kort daarna het pres. Cyril Ramaphosa die Nasionale Raad van Provinsies in kennis gestel het dat hy die Noordwes-regering onder administrasie van die nasionale Regering plaas kragtens seksie 100 (1) van die Grondwet.

Mahumapelo het vroër aangekondig dat hy sou bedank, maar het later met verlof gegaan (sonder Ramaphosa se toestemming) en me. Wendy Nelson as waarnemende premier aangestel. Klagte van korrupsie en bedrog word nou teen Mahumapelo ondersoek.

“Ons weet nog nie presies wat dit gaan behels nie en hoe dit amptenare in die verskillende staatsdepartemente gaan raak nie,” sê Du Toit. Hy is egter vol hoop dat die verhouding tussen boere en die provinsiale regering weer op ’n punt sal kom waar hulle saamwerk om ’n beter landbou-omgewing vir almal daar te stel.

“Ons het in die verlede goed saamgewerk en daar was programme vir die ontwikkeling van die landbou op goeie ekonomiese beginsels op die tafel. Onder Mahumapelo het dit egter op niks uitegeloop nie. Dalk kan ons dit weer op dreef kry.”

Du Toit waarsku egter dat sommige amptenare in die verskillende departemente en munisipaliteite lojale kaders van Mahumapelo is en dat selfs die nasionale Regering gaan sukkel om korrupsie daar hok te slaan.

“Die grootste verskil wat die nasionale Regering nou kan maak, is om korrupsie en wanadministrasie in ons munisipaliteite hok te slaan en hulle uit bankrotskap te bestuur,” sê Du Toit.

“Dit sal die provinsiale ekonomie ruimte gee om te herstel en ons almal sal daarby baat vind.”