Mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê dit wil voorkom of die intimidasie op verskillende plekke in intensiteit begin toeneem.

In die jongste voorval wat onder Landbouweekblad se aandag gekom het, het 9 bakkies met van 40 tot 50 mense ’n week gelede op die plase van mnr. Gordon Brown, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, en mnr. Carey Lee en sy vrou, Elmarie, opgedaag. Hulle en hul kinders is in die kinders se teenwoordigheid met die dood gedreig en die betreders het gesê hulle kom oor twee weke terug met al hul eie diere.

Elmarie sê “net deur genade” het hulle kalm gebly, “maar jou binneste ruk uitmekaar”. Sy sê die polisie, wat nog besig is met die ondersoek na ’n soortgelyke vorige voorval, het hulle ondersteuning belowe. “So iets is nie lekker nie. Mens wens dit nie jou vyand toe nie, maar ons moet kalm bly en hoop dit kom tot ’n einde.”

Een van die mense wat nou betrokke was, was met die vorige sarsie dreigemente in 2018 ook betrokke.

Voortdurende neiging

Du Toit sê hierdie tipe dreigemente is ’n neiging wat in intensiteit toeneem. “By Delareyville was daar ook dreigemente van grondbesttings, maar daar is meer as een rede hoekom dit gebeur. Soms is dit verskillende groepe wat onder mekaar oor restitusiegrond baklei, en in ander gevalle is dit ongedissiplineerde gemeenskappe met baie misdadige elemente wat voorheen dalk met intimidasie en afdreiging sukses behaal het. Daar is ook baie onwettige jagbedrywighede en veediefstal.”

Hy sê weens ’n toenemende hoeveelheid kameras wat die misdaad waarneem, word mense gekonfronteer. Potensiële konfliksituasie ontstaan as hulle ondersteuners ontbied, omdat die polisie en boere se getalle laag is. Die maatskaplik-ekonomiese omstandighede en politieke opsweping vererger die situasie. ’n Ontstellende neiging is doelbewuste brande wat gestig word.

Hy beklemtoon dat daar ’n verskil is tussen grondbesettings naby stede ter wille van behuising en besettings op plase. “Op plase kom dit sporadies voor en dan moet ons dit probeer hanteer. Wat sleg is, is die militantheid van mense en die taktiek van afdreiging. Daar is selfs konflik tussen die polisie en die department van grondsake omdat minstens tien staatsplase ook beset word.”

Agri Noordwes se raad aan boere is om toegangsbeheer op hul plase volgens die protokol toe te pas. “As mense die plaas betree, kry ons die plaaswag en die polisie en ons lê klagte van betreding en intimidasie. Mense moet nie afgestomp raak nie, hulle moet staan op hul regte. Daar is op baie plekke nog goeie ondersteuning van die polisie.”