Mnr. Arno Steenkamp van Tweekop Boerdery tussen Heidelberg en Swellendam sê dit het middel November 51 mm tot 90 mm op die boerdery se plase gereën. Op 20 November het dit weer 10 mm gereën. “Dit het mooi uitgewerk. Ons koring-, gars- en kanola-oes is in en dit gaan baie goed wees vir die weiding. Die lusern het gebot en groei stadig. Jy kan sien dit was vrek droog, want al die water het ingetrek.”

Hy reken sy vee sal die lusern oor twee weke kan begin bewei. Dit sal verligting bring, aangesien hulle tot dusver groot hoeveelhede voer moes aankoop. As hulle oor twee tot drie weke weer sowat 30 mm reën kry, kan hulle lusern sny en baal.

Die somerreën gaan ook tot voordeel van die volgende graanseisoen wees omdat hulle die vog kan bewaar en onkruid bekamp voor dit opkom.

Reën meer werd as moontlike skade aan graan

Mnr. Janneman Fourie van die plaas Mierkraal tussen Caledon en Riviersonderend het ook middel November 20 mm tot 50 mm reën op sy grond gehad, opgevolg deur 10 mm. Hy is nog nie klaar geoes nie, maar sê die reën is baie meer werd as moontlike skade aan die graan.

Fourie het vanjaar van April tot Oktober net 170 mm reën gekry, wat sowat die helfte is van die 250 mm wat hulle as gemiddelde die vorige vyf jaar gekry het. “Vir die hoeveelheid reën wat ons gekry het, is die oes wat ons afhaal eintlik uitstekend. Die koring is nie so goed nie, maar die gars het wragtig goed gevaar en die grade is goed.”

Hy sê ook die reën gaan ’n groot verskil aan die weiding maak.

Die reën bring groot verligting in sy boerdery by Riversdal, sê mnr. Johannes Joubert. Hy het middel November meer as 60 mm gekry en ’n week later 10 mm. “Dit was hoog tyd dat ons lekker reën kry . . . o jitte, ons voer ons diere darem al van verlede jaar dié tyd af. Dis baie goed vir die weiding. Oor ’n week of twee gaan ons redelik kos hê en die stoppellande is ook nou beskikbaar vir die diere om op te wei.”