Hierdie pakket sluit ook hulp in aan besighede wat tydens die onlangse gewelddadige onluste in Kwazulu-Natal en Gauteng geplunder en uitgebrand is.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 25 Julie tydens die aankondiging van die nuwe vlak 3-inperking aangedui dat verdere ekonomiese verligting gebied sal word.

Mnr. Edgar Sishi, waarnemende hoof van die begrotingskantoor by die tesourie, sê die pakket bestaan uit R31,2 miljard wat van die hoër as verwagte belastinginkomste afkomstig is, R5 miljard van diensbelasting (ETI) en R2,65 miljard van die hertoewysing van sekere departemente se begrotings.

Mnr. Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die departement van finansies, het benadruk dat die staat nie geld hoef te leen om die herstelpakket te bewillig nie. 

Mboweni sê die skade aan infrastruktuur, soos winkels, netwerktorings, fabrieke, poskantore, paaie en vragtreine, weens die onluste beloop in die eThekwini-gebied alleen na raming R15 miljard. Die totale skade weens die onluste word op R50 miljard geskat, maar die vermenigvuldigingseffek vir die ekonomiese stelsel is baie groter.

Hy sê hy kan nie insien hoe die brand van winkels en vragmotors by die Mooirivier-tolplaza enige probleme kon oplos nie.

Besighede wat verseker is, sal deur die staat se versekeraar, Sasria, bygestaan word. Die tesourie sal onmiddellik R3,2 miljard aan dié instelling oordra. In hierdie stadium kan die tesourie nog nie aandui hoeveel skade onversekerde besighede gely het nie.

Die polisie en die weermag, wat moes ingryp om die onluste onder beheer te bring, sal onderskeidelik ’n bykomende R250 miljoen en R700 miljoen kry.

“Uiteindelik gaan dit nie oor die polisie of die weermag nie. Dit gaan oor mense in gemeenskappe wat moet verseker dat vrede en stabiliteit terugkeer en oor diegene wat weet wie die plunderaars is wat die kitsbanke en banke vernietig het, wat dit moeilik gemaak het vir kontant om in veral Kwazulu-Natal te sirkuleer.”

Die maatskaplike verligtingstoelaag van R350 per maand word weer ingestel tot die einde van die boekjaar. Dit beloop R26,7 miljard. 

Langtermynskade

Sosiale onrus op kort en lang termyn sal sakevertroue demp, en private beleggings en die toekomstige groei van die bruto binnelandse produk verminder, waarsku Mboweni. Dit sal ekonomiese herstel strem in ’n tyd dat sakevertroue reeds swak is en by vlakke draai wat laas in die vierde kwartaal van 2014 gesien is. As die onluste voortduur, selfs al is dit op ’n kleiner skaal en net op sekere plekke in Suid-Afrika, sal dit ’n langdurige nadelige uitwerking op vertroue, private beleggings en groei hê.

Die land sal eers in 2023 terugkeer na die geprojekteerde ekonomiese groeivlakke waar hy sou wees voor die covid-19-pandemie uitgebreek het, volgens Mboweni.

In 2020 het Suid-Afrika se ekonomie met 7,2% ingekrimp vergeleke met die 7,8%-inkrimping wat in die 2020-mediumtermynbegrotingsraamwerk voorspel is. In die begrotingsrede in Februarie vanjaar is voorspel dat ekonomiese herstel sal voortduur, maar uitsette sal tot 2023 steeds laer en werkloosheid hoër as die voor-pandemievlakke bly. Daar is toe ook werklike ekonomiese groei van 3,3% in die 2021-’22-boekjaar voorspel.