Mercedes-Benz het sy splinternuwe X-CLASS-eentonner produksiemodel in Kaapstad aan die wêreld gewys en dié veelbesproke nuweling gaan glo vroeg in volgende jaar sy Suid-Afrikaanse debuut maak.

Op die oog af lyk dit nie asof veel aan die bakwerk gekarring is sedert die eerste konsepmodelle by ‘n paar internasionale motorskoue vertoon is nie. Ná veel bespiegelinge het Mercedes-Benz nou eers die sluier gelig oor die tegniese aspekte wat die nuweling glo ‘n baie veelsydige voertuig maak.

Met ‘n hele rits modelle in die reeks met verskillende afwerkings binne én buite asook die keuse van enjins, ratkaste en vierwielaandrywing sal die nuwe eentonner beide in die boendoes én by die teater glo ewe tuis wees, sê Mercedes.

Ses materiale vir binneruim

Die nuwe reeks spog met drie afwerkings- en toerustingvlakke, twee vier- en ‘n sessilinderenjin, ‘n sesgang-handratkas of ‘n sewegang outomatiese ratkas, asook agterwielaandrywing met skakelbare of permanente vierwieltrek. Kopers kan tussen nie minder nie as ses afwerkingsmateriale vir die binneruim kies, waarvan twee leer is.

Die viersilinder-dieselenjin van die X 220 d-model verplaas 2,3 liter. Die weergawe met die enkelturbo-aanjaer lewer 120 kW drywing terwyl dit met dubbelturbo-aanjaertegnologie tot 140 kW drywing in staat is. Vir Dubai en Marokko se linkerhandstuurmarkte is ‘n 2,0 liter petrolenjin (122 kW) beskikbaar. (Dié model sal nie plaaslik beskikbaar wees nie.)

Na verwagting sal die X-CLASS se V6-diesel X 350 d teen die middel van volgende jaar sy verskyning maak. Hierdie topmodel van die reeks sal met drywing van 190 kW en 550 Nm se wringkrag spog! Dit sal met Mercedes-Benz se permanente 4MATIC-viertrekaandrywing en ‘n sewegang outomatiese ratkas toegerus wees.

Hoogte van die grond af

Die reeks se grondvryhoogte van 202 mm kan met ‘n verdere 20 mm tot 222 mm op versoek verhoog word.

Die bakkie is reeds in die produksieproses. Die Europese bekendstelling is geskeduleer vir November vanjaar terwyl die plaaslike bekendstelling glo vroeg in 2018 sal wees. Later in volgende jaar sal die Australiërs en Nieu Zeelanders die X-CLASS kry terwyl Argentinië en Brazilië nog tot in 2019 geduldig sal moet wees.

Suid-Afrikaners, en veral ons boere, hou in die algemeen nog altyd sommer baie van die driepuntster en dit is net moontlik dat heelparty Sondagkarre vroeg in volgende jaar op X-CLASS-eentonners ingeruil gaan word!