Verlede jaar was daar geen kwota vir die jag van luiperds nie. In 2018 is die jag van sewe luiperds toegelaat, terwyl dit in 2016 en 2017 ook verbied was. Die toekenning van geen kwotas vir hierdie jare was op aanbeveling van die wetenskaplike owerheid, die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi).

Me. Hannah Winkler, DA-LP, wou by Creecy weet wat vanjaar se kwota vir die trofeejag van luiperds is, asook die kwota vir die trofeejag van olifante. Sy wou ook weet of olifante in reservate gejag mag word.

Creecy het gesê met die bepaling van vanjaar se kwota vir die jag van luiperds het die wetenskaplike owerheid die inligting rakende die bevolkingsneigings van die luiperd in Suid-Afrika oorweeg. Die inligting sluit in verslae oor die monitor van die diere en ontledings rakende bevolkingsneigings oor die afgelope drie jaar. Daar is ook gekyk na die getal luiperds wat in die provinsies doodgemaak is omdat hulle skade veroorsaak het of waar daar konflik tussen mense en diere was.

Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye het in Junie 2019 met belanghebbendes gekonsulteer. Lede van die publiek is gevra om die nodige data beskikbaar te maak vir die wetenskaplike owerheid vir die bepaling van die 2019-kwota. In die geskrewe kommentare aan die wetenskaplike owerheid het belanghebbendes ’n wye reeks sienings geopper wat oorweeg is met die bepaling van die kwota.

Creecy het gesê aangesien geen kwota in 2019 toegestaan is nie, is die toekenningsproses na vanjaar uitgestel.

“Ná die oorweging van al die relevante inligting is die luiperdkwota vir 2020 dus 11 manlike luiperds, sewe jaar of ouer. Hierdie diere mag nie in nasionale parke gejag word nie.”

Olifantkwota

Verlede jaar het ’n hoëvlakpaneel begin kyk na die hersiening van bestaande beleid en wetgewing wat rigting sal bied hoe die land sy bestuurs- en handelspraktykte vir leeus, luiperds, renosters en olifante moet aanpas. Dit kom nadat belanghebbendes op ’n tweedaagse seminaar in 2018 gesê het dat die praktyk van geblikte leeus skade berokken aan die land se goeie naam rakende bewaringsaksies.

Die portefeuljekomitee vir omgewingsake, bosbou en visserye het toe besluit dat beleid en wetgewing ingestel moet word wat die teel van leeus in aanhouding vir trofeejag en vir die uitvoer van leeubene verbied.

Rakende die olifantkwota het Creecy gesê dat Suid-Afrika ’n jaarlikse uitvoerkwota van 300 ivoortande van 150 olifante het wat deur die konvensie oor handel in bedreigde spesies (Cites) goedgekeur is. Hierdie kwota word jaarliks aan provinsies toegestaan op grond van versoeke van die provinsies. Geen olifante mag in nasionale parke gejag word nie.

Die provinsies reik gemiddeld 50 permitte vir die jag van olifante per jaar uit. Die regulasies vir bedreigde of beskermde spesies (Tops) beperk die jag van olifante tot alleenlopende manlike diere of diere wat skade veroorsaak.