Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, het in ’n oorsig van die groei in Suid-Afrika se landbousektor oor die afgelope dekade gesê dat produksie sedert 2010 met 19% toegeneem het. Die bruto waarde van die sektor het in dié tyd met 44% gestyg. Wat bemoedigend is, is dat die uitbreiding oor al die subsektore en ook in die verwerkingsektor geskied het.

Tuinbou het gegroei met 70%, diereproduksie met 43%, saaiboerdery met 22% en landbouverwerking met 13%, aldus data van die buro vir ekonomiese navorsing (BER) en die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP).

BFAP voorspel verdere groei oor die volgende tien jaar. Die ondersteuning van regeringsbeleid, wat die meesterplanne vir die landbou en landbouverwerking insluit, kan groei ’n verdere hupstoot gee.

Die Brics-werkgroepvergadering is bygewoon deur onder meer regeringsverteenwoordigers, Agri SA, die African Farmers’Association (Afasa), BFAP en die National African Farmers’ Union (Nafu). Die mikpunt was om Suid-Afrika se groei-inisiatiewe te steun en daar is gekyk na groter marktoegang in China en Indië vir ’n verskeidenheid produkte, wat beesvleis, tuinbouprodukte en wyn insluit.

Uitvoermarkte

Dr. John Purchase, voorsitter van die werkgroep, het beleidmakers gevra om saam met die private sektor te werk om groter toegang tot uitvoermarkte te kry, veral wat Indië en China betref. “Hierdie lande het nie net bevolkings wat toeneem nie, maar hul inkomstes groei ook te midde van veranderinge in verbruikersvoorkeure. Dit skep goeie vooruitsigte vir die produkte wat Suid-Afrika met die oog op uitvoer produseer. Die werkgroep sien uit na verdere gesprekke met regeringstrukture om hierdie doelwitte te bereik”

Suid-Afrika speel nog ’n klein rol in die Brics-mark. Die ander lidlande (Brasilië, Rusland, Indië en China) behels minder as 10% van die Suid-Afrikaanse uitvoer van $10 miljard (R150 miljard). Die groot probleem is tariewe en ander handelstruikelblokke. Die werkgroep is ’n voorstander vir voorkeurmarktoegang wat hierdie struikelblokke uit die weg sal ruim.

Suid-Afrika beskou die landbou as ’n belangrike sektor binne die ekonomiese heropbou-en-herstelplan. Dit behels die uitbreiding van landbouproduksie met die hulp van die onderskeie meesterplanne wat in die finale stadium van afhandeling is. Met die toename in produksie sal meer uitvoermarkte nodig wees omdat die Suid-Afrikaanse landbou uitvoergedrewe is.

Sihlobo het gesê in die geval van sommige produkte is die teikens wat in 2012 in die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) gestel is, reeds oorskry. Dit geld onder meer sitrus, makadamias, suiwel en varkvleis, terwyl sojabone, avokado’s, appels en tafeldruiwe vinnig besig is om die NOP-teikens te bereik.

“Suid-Afrika se landbousektor is hoogs uitvoergedrewe met uitvoer wat rofweg reeds die helfte van die produksie ten opsigte van waarde verteenwoordig.” Die sitrusbedryf sal vanjaar waarskynlik alle vorige rekords oortref met uitvoer van sowat 159 miljoen kartonhouers. Daarby raam die sektor dat uitvoerproduksie oor die volgende drie jaar met 300 000 ton sal toeneem.

Hawens

“Die verwagte groei in landbou-uitvoer noodsaak ook dat gekyk moet word na die logistieke doeltreffendheid van Suid-Afrikaanse hawens. Die bedryf werk ten nouste saam met die regering en ander belanghebbendes soos Transnet om die vloei deur die hawens te verbeter.”

Sihlobo sê die Brics-lande verteenwoordig 12% ($180 miljard) van die wêreld se landbouhandel en daar is groot geleenthede vir Suid-Afrika. China is die grootste invoerder met 68% van die Brics-invoer, gevolg deur Rusland (14%), Indië (10%) Brasilië (5%) en Suid-Afrika (3%), aldus data van Trade Map.

Onderhandelinge gaan onder meer daaroor om handelstariewe verlaag te kry. Hy verwys na wyn as ’n voorbeeld en sê lande soos Australië en Chili voer wyn tariefvry na China uit, terwyl Suid-Afrikaanse uitvoerders ’n tarief van 14% moet betaal.

Hy verwag nie dat die onderhandelings maklik sal wees nie aangesien China en Indië waarskynlik op teenprestasies sal aandring. Dit kan indruis teen Suid-Afrika se strategieë met marktoegang in ander lande. Hy meen handelsbeleid en strategieë vir sektorontwikkeling moet ontwikkel word met die oog op die voordele wat nuwe markgeleenthede inhou.