’n Nuwe neiging is in rooivleisbemarking te bespeur wat dié bedryf noop om by voorkeure van verbruikers aan te pas.

Mnr. Alex Cilliers, hoof van vleishandel by GWK, sê die moderne verbruiker het nuwe behoeftes en die bedryf moet homself daarby aanpas. Die grootste verkoopneiging van rooivleis het na die kettinggroepe en die kleinhandel toe verskuif, teenoor die vroeëre bemarking hoofsaaklik deur groothandelaars.

Hy het op die Vrystaatse RPO-kongres in Bloemfontein gesê dit is hoofsaaklik teweeg gebring oor die gemak en die voorkeure van verbruikers, asook ’n verandering in verbruikers se inkooppatrone.

Het in groot maat gekoop

“Verbruikers het vroeër vleis meer geredelik in groot maat by slaghuise en kleiner supermarkte aangekoop, dikwels in ’n sporadiese patroon aan die einde van elke maand,” sê hy. “Nou sal die verbruiker daagliks sy vleisbehoeftes by groot kettingwinkels aankoop, en ons moet seker maak dat die bedryf daagliks karkasse kan verskaf, verpak en op die winkelrakke kry om seker te maak dat die verbruiker sy snitte kry wanneer hy of sy instap,” sê hy.

Volgens Cilliers weet die hedendaagse verbruiker presies wat hy of sy wil hê en voorkeure gaan onder meer met die gemak en die konstante lewering van hoogstaande gehalte gepaard.

“Sowat 60% van die verbruikers koop hulle rooivleis by kettinggroepe aan. Ons kan nie die oprigting van vleisverwerkingsaanlegte bekostig en dan kan verbruikers nie hulle voorkeursnitte daagliks op die winkelrakke teen stabiele prysvlakke aantref nie,” sê hy.