Angie Khumalo, aanbieder by Metro FM en self ’n passievolle boer, sal dié program in Zoeloe en Sotho aanbied met onderskrifte in Engels.

In die eerste episode ontmoet kykers mnre. Clifford en Koos Mthimkulu, ’n pa en seun wat saam ’n winsgewende gemengde boerdery met gewasse en vee by Senekal in die Vrystaat bestuur.

Die program, wat deur Brand Republic vervaardig word, sal met ’n webwerf en maandelikse tydskrif onder redakteurskap van die landboujoernalis Peter Mashala gepaardgaan, asook kanale op sosiale media waar nog inligting oor goeie praktyke en elke episode se suksesverhale gevind kan word. Die tydskrif word deur Landbouweekblad uitgegee en sal op Landbou.com beskikbaar wees.

Mashala was voorheen in Farmer’s Weekly se redaksie en het baie kennis oor opkomende boere en transformasie in die landbousektor. Hy sê die doel van die program is om ’n nuwe, vars blik op Afrika se boere te rig.

African Farming wil opkomende boere inspireer deur Suid-Afrika se talentvolste boere ten toon stel en vir hulle rolmodelle te gee met wie hulle kan identifiseer en ook kan bewonder. Ons wil ’n insiggewende en inspirerende handelsmerk wees wat bydra tot die ontwikkeling van die landbousektor.”

Bathabile Modutoane, wat saam met Enathi Mqokeli die program vervaardig, sê hulle hoop dat die program ’n brug tussen gewone Suid-Afrikaners en die landboumark sal bou.

“Hierdie program is nie net vir mense met grade bedoel nie, maar ook vir mense wat in die landbou belang stel en miskien op ’n klein skaal in hul tuine boer. Hierdie program sal hulle help om besluite te neem oor hoe om ’n inkomste uit die landbou te verdien.

“Die program is ook bedoel vir mense wat by die landbou betrokke wil raak. Dit sluit in die man wat twee taxi’s werk toe moet haal en vetkoek op die straathoek koop. Ons wil ook die waarde van boere in Suid-Afrika uitlig. Hulle is veerkragtig en innoverend, en speel ’n belangrike rol in ons ekonomie.”

Mqokeli sê hulle wil alle swart opkomende boere inspireer sodat hulle kan besef dit is moontlik om hul boerderye uit te brei, en ook deur die suksesverhale op die program die landbousektor vir nuwe boere aanloklik te maak.

African Farming is geskep deur Landbouweekblad en Brand Republic South Africa met die samewerking van John Deere, Elanco, AFGRI, Corteva Agriscience, Pannar Seed en Pioneer Seed South Africa. Dit sal vanaf 1 Oktober om 18:30 elke Donderdag op Mzansi Wethu (DStv-kanaal 163) uitgesaai word.