In wat moontlik die hoogste mielie-opbrengs nog in Suid-Afrika kan wees, het mnr. Erich Cloete van die plaas Sanctuary in die Cradock-distrik vanjaar ’n verstommende 23,92t/ha geoes.

Dit is 1,42t/ha meer as wat mnr. Zirk Scheepers van Wonderkop, Cradock, verlede jaar se wenner in die 20 ton mielieklub-kompetisie van Cradock Saadverspreiders, behaal het.

Die ander wenners in die kompetisie waaraan 22 boere in die Visrivier-vallei vanjaar deelgeneem het, is die naweek op Cradock bekend gemaak. Mnr. Isak van der Merwe van Kransfontein, Colesberg is die naaswenner in die noordelike streek met 21,76 ton/ha terwyl mnr. Andre Marais van Roodewal in die suidelike streek, koning gekraai het met 20,51 t/ha. Mnr. Zirk Scheepers, verlede jaar se algehele wenner, het dié seisoen 20,46t/ha geoes het.

Mnr. Dirk Visser, besturende direkteur van Cradock Saadverspreiders, onder wie se leiding die kompetisie drie jaar gelede ingestel is, sê hoewel dit met El Niño ’n baie moeilike seisoen was omdat die hitte-eenhede die hoogte ingeskiet het, al die deelnemers bo verwagting goed presteer het. “Die prestasie is in ’n baie moeilike seisoen met die regte grondvoorbereiding en bestuur behaal.”

Die wenners se prysgeld is R40 000 en die naaswenners het R20 000 ontvang.

Foto: Mnr. Dirk Visser (middel) besturende direkteur van Cradock saam met die nuwe mieliekonings in die land. Links staan mnr. Wessel Cloete en regs sy pa Erich wat vanjaar  23,92t/ha geoes het. Dit is sover bekend die hoogste mielieproduksie nogin die land. Foto verskaf

Cradocksaad2.jpg-600